Prediker 9:10-18 Die Boodskap (DB)

10. Werk hard en probeer dit geniet. Doen wat jou hand vind om te doen, want in die blyplek van die dooies waarheen jy op pad is, werk niemand nie. Daar is ook geen kennis of wysheid nie.

11. Daar is nog iets wat my baie omkrap. En dit is dat die vinnigstes nie altyd die resies wen of die sterkstes die geveg nie. Verder het daardie mens wat reg leef, nie altyd kos nie; ’n skrander mens is ook nie altyd ryk nie en slimmes word nie altyd bevorder nie. Slegte dinge tref almal.

12. Niemand weet wanneer iets slegs met hom gaan gebeur nie. Soos wanneer voëls skielik in ’n wip beland, of visse in ’n net, net so vinnig en onverwags tref ongeluk die mens.

13. Ek het in hierdie wêreld gesien dat mense nie veel van wysheid dink nie.

14. Op ’n keer was daar ’n klein dorpie met ’n paar inwoners. ’n Groot sterk koning het teen die dorpie opgetrek. Hy het dit omsingel en die mure begin afbreek.

15. Binne-in die dorpie was daar ’n arm man, maar baie wys. Deur sy kennis en insig het hulle die koning se aanslag afgeweer. Maar na ’n tydjie het niemand meer aan dié wyse man gedink nie.

16. Toe het ek vir myself gesê dit is tipies van die lewe. Wysheid is baie beter as krag en mag, maar die arm wyse sal altyd verag word. Niemand luister na hom nie.

17. Om rustig na die diep gedagtes van ’n wyse te luister is baie beter as die geskree van ’n politieke leier in die geselskap van dwase mense.

18. Wysheid is beter as oorlogswapens. ’n Dwaas kan egter alle goeie dinge met een woord vernietig.

Prediker 9