Numeri 5:2-19 Die Boodskap (DB)

2. “Beveel die Israeliete om elkeen wat ’n ernstige velsiekte het, of ’n onnatuurlike liggaamlike uitskeiding, of wat in kontak was met ’n lyk en daarom vir ’n tydperk nie aan godsdienstige aktiwiteite mag deelneem nie, uit die kamp uit te stuur.

3. Dit geld vir sowel mans as vroue. Stuur hulle uit die kamp uit sodat hulle nie die kamp waar Ek by julle is, onrein maak nie.”

4. Die Israeliete het toe die Here se opdrag uitgevoer en al hierdie mense uit die kamp weggestuur.

5. Die Here het toe vir Moses gesê:

6. “Wanneer ’n man of ’n vrou enige sonde doen waarmee hulle ontrou aan die Here is,

7. moet die skuldige persoon sy skuld bely. Verder moet die volle bedrag vir die skade wat die onskuldige gely het, plus ’n verdere twintig persent as skadevergoeding aan daardie persoon terugbetaal word.

8. As die persoon wat skade gely het, reeds dood is en nie ander familie het aan wie die skuld betaal kan word nie, behoort die geld aan die Here. Hierdie bedrag moet saam met die ram, wat geoffer moet word as bewys dat die skuldige jammer is oor sy sondes, aan die priester gegee word.

9. “Al die offers wat die Israeliete na die priester toe bring vir die diens aan die Here, behoort aan die priester. Dit dien as sy inkomste waarvan hy moet leef.

10. Nadat die Here se deel deur die mense wat kom offer aan Hom gegee is, behoort die res aan die priester.”

11. Toe sê die Here vir Moses:

16. “Die priester moet die vrou dan voor die altaar in die teenwoordigheid van die Here laat staan.

17. Die priester moet dan ’n bak vat, dit volmaak met water wat vir sy diens opsy gesit is en dit met stof van die tabernakel se vloer meng.

18. Dan moet hy die vrou se hare losmaak waar hulle voor die Here staan. Sy moet dan die offer vashou, sodat hulle kan sien of haar man reg was of nie. Die priester moet voor haar staan. Hy moet die bak met die water vashou wat moet wys of sy skuldig is en ’n groot straf oor haar kan bring.

19. Dan moet hy die vrou vra om plegtig te beloof dat sy die waarheid praat. Hy moet dan vir haar sê: As ’n ander man nie by jou geslaap het nie en jy wat ’n getroude vrou is, nie ontrou aan jou man was nie, mag jou onskuld dan sigbaar word deur hierdie bitter water wat ’n groot straf oor jou kan bring as jy jok.

Numeri 5