1. Moses het die leiers van die stamme bymekaar laat kom en vir hulle gesê: “Hier is nog opdragte van die Here:
2. As iemand ’n belofte aan die Here maak of onder eed iets belowe, mag hy nie sy woord breek nie; hy moet presies doen wat hy gesê het.
3. “As ’n jongmeisie voor haar troue terwyl sy nog in haar ouerhuis woon, ’n belofte aan die Here maak of iets onder eed belowe,
4. en haar pa kom hiervan te hore en hy sê niks daarvan nie, bly al die beloftes of verpligtings geldig.
5. Maar as haar pa daarvan hoor en dit dadelik stopsit, is al haar beloftes ongeldig. Die Here sal haar nie aan haar woord hou nie omdat haar pa haar gekeer het om te doen wat sy belowe het.
6. “Dit kan gebeur dat ’n ongetroude meisie ’n oorhaastige belofte aan die Here gemaak het voordat sy trou.
7. As haar man daarvan te hore kom en hy sê niks nie, bly hierdie beloftes staan.
8. Maar as haar man dit dadelik afkeur sodra hy daarvan hoor, is die beloftes wat sy gemaak het, ongeldig. Die Here sal haar nie daaraan hou nie.
9. “As ’n weduwee of ’n geskeide vrou ’n belofte aflê of ’n eed sweer voor die Here, bly dit van krag.
10. “As ’n getroude vrou ’n belofte aan die Here maak of iets onder eed belowe
11. en haar man hoor hiervan en hy sê niks daarvan nie, bly al die beloftes wat sy gemaak het, geldig.
12. Maar as haar man dit nietig verklaar, is die beloftes wat sy gemaak het, ongeldig. Die Here sal dit nie teen haar hou nie omdat haar man haar gekeer het om te doen wat sy belowe het.