5. het toe boodskappers na Bileam die seun van Beor toe gestuur. Bileam was in Petor naby die Eufraatrivier in die land Ammau. Balak het vir hom laat weet: “Hier het nou net ’n hele volk uit Egipte uit aangekom, en oral waar hulle kom, vat hulle oor. Hulle het hulle nou hier op my voorstoep kom tuismaak.
6. Hulle is te veel vir ons om baas te raak. Kom help my, asseblief! Ek wil hê jy moet ’n vloek op hulle kom sit; miskien sal ons hulle dan kan baasraak en uit ons land uit wegjaag. Ek weet mos as jy met jou buitengewone kragte mense seën, gaan dit regtig goed met hulle. Maar as jy mense vervloek, tref slegte dinge hulle beslis ook.”
7. Die klompie leiers uit Moab en Midian wat as Balak se boodskappers opgetree het, is toe daar weg met die geld wat hulle vir Bileam sou gaan aanbied om te doen wat Balak vra. By Bileam aangekom, het hulle vir hom die situasie geskets.