27. Dit is oor hierdie oorwinning wat die digters vroeër ’n lied geskryf het:“Kom na Gesbon toe en bou dit weer op, herstel koning Sihon se stad!
28. “Hier van Gesbon van koning Sihon se stad af het die aanval soos ’n verwoestende veldbrand versprei. Dit het die stad Ar in Moab totaal verteer wat die Arnonhoogtes beheer het.
29. “Siestog, julle arme Moabiete! Die einde is vir julle in sig, maar julle wou mos op die god Kemos vertrou! “Maar Kemos het julle seuns aan hulle eie lot oorgelaat en nou is hulle vlugtelinge. Al julle dogters het hy deur die Amoritiese koning Sihon laat vang.
30. Ons het hulle heeltemal uitgeroei van Gesbon af tot by Dibon. Ons het alles vernietig tot by Nofag en Medeba.”
31. Die Israeliete het in die Amoriete se land gaan bly.
32. Moses het mense gestuur om te gaan kyk of dit moontlik was om die stad Jaser te oorrompel. Daarna het hulle die stad aangeval en dit saam met al die dorpe in die omgewing ingeneem en die Amoriete verdryf wat daar gebly het.