Numeri 19:10-17 Die Boodskap (DB)

10. Die persoon wat die koei se as bymekaargemaak het, moet ook sy klere was, maar hy sal ook vir die res van die dag onrein wees. Hierdie is ’n permanente gebruik wat geld vir die Israeliete en vir die mense van ander volke wat by hulle bly.”

11. “Iemand wat aan ’n lyk raak, mag vir ’n week nie enige amptelike godsdienstige funksies verrig by die tent waar Ek aanbid word nie.

12. So ’n persoon moet homself op die derde en die sewende dag met die reinigingswater was, en dan kan hy weer godsdienstige take verrig. Indien hy dit nie presies so doen nie, bly hy onrein.

13. As iemand aan ’n lyk geraak het en homself nie op hierdie manier gereinig het nie, en hy kom by die tent waar Ek aanbid word, maak hy dit onrein. Dan moet die ander Israeliete hom wegjaag uit hulle midde, want hy bly onrein.

14. “Wanneer iemand in ’n tent doodgaan, is elkeen wat in daardie tent ingaan en alles wat daarbinne is, vir sewe dae onrein.

15. Elke houer met kos of water wat nie ’n deksel opgehad het nie, is ook onrein.

16. Enigiemand wat in die veld aan die liggaam raak van ’n soldaat wat dood is, of selfs aan ’n persoon wat aan natuurlike oorsake dood is, of selfs aan ’n geraamte of ’n graf, mag vir sewe dae geen amptelike godsdienstige take in die tent verrig of daar naby kom nie.

17. “As iemand op hierdie manier onrein geword het, moet die persoon van die as van die offer vat wat vir mense se sondes geoffer word, dit in ’n pot sit en vars water daaroor gooi.

Numeri 19