8. Die Here het vir Aäron gesê: “Ek het jou uitgekies om toesig te hou oor al die offers wat vir My gebring word. Al daardie dele van die offers wat nie heeltemal verbrand word nie, behoort aan jou en jou seuns. Hierdie reël geld vir altyd.
9. Selfs daardie dele van die spesiale offers wat nie heeltemal verbrand word nie, behoort aan jou en jou seuns. Dit sluit elkeen van die volgende soorte offers in: graanoffers, sondeoffers en skuldoffers.
10. Hierdie dele van die offers wat julle toekom, moet julle in ’n afgesonderde plek eet. Julle moet onthou dat hierdie kos baie spesiaal is omdat dit eintlik aan My behoort. Slegs die mans mag daarvan eet.
11. “Daar is nog ander offers wat ook aan julle behoort. Al die offers wat die Israeliete bring wat heen en weer voor My beweeg word, behoort ook aan jou en jou seuns en dogters. Elkeen in jou huis wat voldoen aan my voorskrifte om My te dien by die tent waar Ek aanbid word, mag daarvan eet. Dit is weereens ’n vaste reëling wat vir altyd geld.
12. Ook die eerste opbrengs van die jaarlikse oeste wat hulle altyd vir My bring, behoort aan julle. Dit sluit in olyfolie, wyn en koring.
13. Die eerste vars vrugte wat aan hulle bome ryp geword het en wat hulle vir My bring, behoort ook aan julle. Elkeen in jou huis wat voldoen aan my voorskrifte om My te dien by die tent waar Ek aanbid word, mag daarvan eet.
14. Elke offer wat spesiaal deur die Israeliete vir My opsy gesit word, behoort ook aan julle.
15. Die eersgebore kinders, of dit nou mens of dier is, wat aan die Here gewy word, behoort ook aan julle. Maar hier werk dit so: die eersgebore kinders en die eerstelinge van die onrein diere moet losgekoop word, sodat hulle kan teruggaan na hulle ouers en eienaars toe.
16. Hulle moet op die ouderdom van een maand losgekoop word, teen die vasgestelde prys van 55 gram silwer per kop volgens die standaardgewigte wat hier by die tent gebruik word.
17. Julle mag egter nie die eerstelinge van beeste, skape en bokke loskoop nie. Hulle moet aan My geoffer word. Hulle bloed moet as teken van my vergifnis van julle sondes teen die altaar gesprinkel word en hulle vet moet as ’n vuuroffer op die altaar verbrand word. Ek sal so ’n offer aanvaarbaar vind.
18. Die vleis behoort aan julle net soos die bors en die regterboud van die offer wat heen en weer voor My beweeg word ook aan julle behoort.
19. Al die spesiale offers wat die Israeliete vir My, die Here, bring, behoort aan jou en jou familie. Dit is ’n vaste reëling, ’n permanente ooreenkoms tussen My en jou en jou nageslag.”
20. Die Here het ook vir Aäron gesê: “Nie jy of enige van die priesters sal enige grond van julle eie kry in die land waarheen Ek julle vat nie. Ek, die Here, sal sorg dat jy kry wat jy nodig het uit die offers wat vir My gebring word.”
21. “Vir hulle werk in die tent waar Ek aanbid word, gee Ek vir die Leviete die tiendes wat die Israeliete uit hulle besittings vir My bring.