Numeri 18:20-29 Die Boodskap (DB)

20. Die Here het ook vir Aäron gesê: “Nie jy of enige van die priesters sal enige grond van julle eie kry in die land waarheen Ek julle vat nie. Ek, die Here, sal sorg dat jy kry wat jy nodig het uit die offers wat vir My gebring word.”

21. “Vir hulle werk in die tent waar Ek aanbid word, gee Ek vir die Leviete die tiendes wat die Israeliete uit hulle besittings vir My bring.

22. Niemand anders mag dit selfs naby die tent waag waar Ek aanbid word nie. Dan sal hulle doodgaan.

23. Dit is net die Leviete wat by die tent mag werk. En hulle sal verantwoordelik wees vir enigiets wat daar verkeerd loop. Dit is ’n reël wat ook vir julle nageslag geld. Die Leviete sal ook nie enige grond in die land kry nie,

24. aangesien Ek die tiendes wat die volk vir My gebring het, vir hulle gee. Dit is hoekom Ek vir hulle sê dat hulle nie ’n deel van die land kry, soos die ander Israeliete nie.”

25. Die Here het vir Moses gesê:

26. “Sê vir die Leviete: Van die tiendes wat hulle van die Israeliete gekry het, moet hulle weer vir My ’n tiende daarvan as spesiale offer vir die Here gee.

27. Die Here sal dit beskou asof dit die eerste koring van julle eie land of die eerste wyn van julle wynperse af is.

28. Die een tiende van die tiendes wat julle van die Israeliete gekry het, moet julle vir Aäron as sy deel gee. Dit is my manier om vir hom te sorg.

29. Maak seker dat julle net die beste van wat julle kry, vir die Here opsy sit.

Numeri 18