Numeri 15:27-37 Die Boodskap (DB)

27. “As dit net een mens is wat onwetend ’n sonde gedoen het, moet die persoon ’n jaaroud bokooi bring as teken van berou.

28. Die priester moet namens die persoon vir die Here om verskoning vra, waarna die Here die persoon sal vergewe.

29. Dit is een en dieselfde wet wat geld vir die Israeliete sowel as die persone van ander afkoms wat by hulle bly.

30. “Indien iemand moedswillig sonde doen, het hy die Here se eer aangetas. Dit maak nie saak of die persoon ’n Israeliet is of ’n persoon van ’n ander afkoms wat by die Israeliete bly nie, maar dié persoon mag dan nie meer as deel van die volk van die Here beskou word nie. Die gemeenskap moet die rug vir so ’n persoon draai.

31. Omdat so ’n persoon die Here verwerp het en moedswillig sy reëls oortree het, moet hy die gevolge van sy daad dra: hy moet doodgemaak word.”

32. Op ’n dag terwyl die Israeliete weer in die woestyn was, het hulle agtergekom dat ’n sekere man op die sabbat vuurmaakhout bymekaargemaak het.

33. Die mense wat hom op heterdaad betrap het, het hom na Moses, Aäron en die res van die volk toe gevat om oor sy lot te besluit.

34. Omdat niemand heeltemal seker was wat om met hom te doen nie, het hulle hom opgesluit gehou.

35. Toe sê die Here vir Moses: “Die man moet doodgemaak word! Vat hom uit die kamp uit en laat die volk hom met klippe doodgooi.”

36. Hulle het hom toe uit die kamp uitgevat en hom met klippe doodgegooi soos die Here vir Moses gesê het.

37. Die Here het vir Moses nog ’n opdrag gegee:

Numeri 15