8. As die Here tevrede met ons is, sal Hy ons help om hierdie land in te neem en daar te gaan bly. Soos ons vroeër vir julle gesê het: dit is ’n land waar dit lyk of die melk en heuning oral in strome loop.
9. Moet asseblief nie die Here se gesag nou uitdaag nie. Moet ook nie vir die land en sy inwoners bang wees nie, ons kan hulle maklik oorrompel. Hulle afgode waarop hulle staatmaak, sal hulle nie kan help nie, want die Here is aan ons kant. Moenie vir daardie spul bang wees nie!”
10. Die hele vergadering was egter min beïndruk met wat Josua en Kaleb gesê het en wou hulle sommer daar op die plek met klippe doodgooi. Maar skielik het die verblindende glans van die Here se teenwoordigheid oor die tent sigbaar geword. Almal kon dit sien.
11. Die Here vra toe vir Moses: “Hoe lank gaan hierdie volk aanhou om die rug vir My te draai en weier om My te vertrou, ten spyte van die wonderwerke wat Ek al voor hulle oë gedoen het?
12. Ek gaan ’n siekte-epidemie onder hulle instuur om hulle uit te roei. Dan maak Ek jou nageslag ’n baie magtiger volk as wat hierdie spul nog ooit was!”
13. Maar Moses het by die Here gepleit: “Wat sal die Egiptenaars dink as hulle dit moet hoor? Hulle weet mos hoe magtig U is en hoe U hierdie volk uit hulle hande bevry het.
14. Hulle sal dit dadelik vir die mense van hierdie land vertel. U weet tog dat al die inwoners van hierdie land maar alte goed weet dat U saam met hierdie volk trek. Hulle het gehoor dat U onder u volk woon, en bedags saam met hulle trek in die wolk wat skaduwee gee en snags daar is met die vuurwolk om lig te gee.
15. As U hierdie volk nou totaal uitroei, sal al die nasies wat reeds van u wonderlike dade gehoor het, bymekaarkom en sê:
16. ‘Die Here was nie sterk genoeg om hierdie volk in die land in te vat wat Hy hulle so plegtig belowe het nie, daarom het Hy hulle toe maar in die woestyn laat doodgaan.’
17. “Here, wys nou vir ons dat U regtig alles kan doen wat U gesê het.
18. U het mos gesê: ‘Ek is die Here en Ek word nie gou kwaad nie. Ek hou my woord as Ek met julle ’n ooreenkoms gemaak het. Ek vergewe mense hulle sondes en hulle opstandigheid teen My, maar nie sonder dat hulle self die gevolge van hulle dade gedra het nie. Selfs hulle kinders, kleinkinders en agterkleinkinders sal ly onder die gevolge van hulle verkeerde dade.’
19. Vergewe asseblief hierdie volk se sonde omdat U so baie vir hulle omgee. Vergewe hulle soos U hulle van Egipte af tot hier toe vergewe het!”
20. Toe sê die Here: “Ek vergewe hulle, soos jy My gevra het om te doen.