26. Twee van die leiers, Eldad en Medad, was nog in die kamp toe die Gees in hulle begin werk het. Hulle het net daar in die kamp waar hulle was, God se wil begin bekendmaak.
27. ’n Jongman het toe na Moses toe gehardloop en vir hom gesê: “Eldad en Medad is besig om sommer in die kamp in die Naam van God te praat!”
28. “Laat hulle tog ophou, Meneer,” het Nun se seun Josua gesê. Hy was van jongs af al Moses se helper.
29. Toe vra Moses vir hom: “Is jy bang die mense luister nie meer na my nie? Ek wens die Here wil sy Gees vir die hele volk gee sodat hulle almal sy wil bekend kan maak!”
30. Hierna is Moses met die 70 leiers terug kamp toe.
31. Die Here het toe ’n wind laat opsteek wat voëls wat bekend was as kwartels van die see se kant af na die kamp toe gewaai het. Hulle het omtrent ’n meter van die grond af gevlieg en oral op die grond gaan sit vir kilometers aaneen, reg rondom die kamp.
32. Die volk was die hele dag en die hele nag en die volgende dag besig om voëls te vang en bymekaar te maak. Nie een gesin het minder as 1 000 kilogram bymekaargemaak nie. Hulle het die voëls reg rondom die kamp oopgesprei om droog te word.