8. Net die priesters, Aäron se seuns en hulle kinders, mag die trompette blaas. Dit is ’n reël wat vir julle ganse nageslag moet geld.
9. Wanneer julle in julle land aankom en julle julle teen julle vyande moet verdedig, moet julle hard op hierdie trompette blaas om die volk vir oorlog op te roep. Dan sal Ek, die Here julle God, onthou dat julle my volk is en Ek sal julle van julle vyande red.
10. Julle moet ook die trompette blaas as julle bly is en iets het om te vier. Blaas hulle by julle jaarlikse feeste en aan die begin van elke nuwe maand. Blaas hulle as julle bly is oor julle brandoffers en julle eteoffers. Die trompette sal My daaraan herinner dat Ek in ’n ooreenkoms met julle vir julle gesê het: “Ek is die Here, Ek is julle God.”
11. Op ’n dag in die middel van die lente, twee jaar nadat die Israeliete uit Egipte uit weg is, het die wolk van die tabernakel af opgelig.
12. Die Israeliete het toe getrek van die Sinaiwoestyn af tot in die Paranwoestyn, waar die wolk weer tot stilstand gekom het.
13. Die Israeliete het getrek op die manier wat die Here vir Moses beveel het. Hulle het dit so gedoen:
14. heel voor het die afdelings onder leiding van die stam van Juda onder hulle eie vlag vertrek. Hulle leier was Amminadab se seun Nagson.
15. Suar se seun Netanel was in bevel van die afdeling van die stam van Issaskar,
16. en Gelon se seun Eliab was die leier van die afdeling van die stam van Sebulon.