Nehemia 2:9-14 Die Boodskap (DB)

9. Die koning het ’n klompie van sy offisiere en ruiters saam met my gestuur om my te beskerm. Toe ek by die provinsies wes van die Eufraatrivier aankom, het ek die koning se briewe vir die goewerneurs gegee.

10. Toe Sanballat die Goroniet en Tobija die Ammonitiese amptenaar dit hoor, was hulle baie kwaad dat iemand op pad was om die Israeliete te gaan help.

11. Drie dae na my aankoms in Jerusalem

12. het ek en ’n paar van my vertrouelinge een nag stil-stil daar weggesluip. Ek het nog nie vir almal vertel watter planne God in my kop gesit het oor Jerusalem nie. Behalwe die donkie waarop ek gery het, het ons geen ander diere by ons gehad nie.

13. Onder die dekmantel van die nag is ek deur die Valleihek by die stad uit, verby by die Jakkalsfontein tot by die Vullishek. So ver as wat ek gegaan het, het ek inspeksie gedoen van die mure van Jerusalem en ook van die hekke wat afgebrand het.

14. Toe ek by die Fonteinhek en die Koningsdam kom, kon my donkie nie verder gaan nie, so baie puin en rommel het daar gelê.

Nehemia 2