Nehemia 12:39-43 Die Boodskap (DB)

39. Van daar af het ons oor die Efraimshek geloop tot by die Ou Stadshek, verby die Vishek en die Toring van Gananel tot by die Toring van die Honderd. Daarvandaan is ons verder tot by die Skaaphek en het uiteindelik by die Waghek naby die tempel gaan staan.

40. Die twee kore is toe van daar af tempel toe waar hulle op die plek wat vir hulle aangewys is, gaan staan het. Ek en die groep leiers saam met my het ook ons plekke ingeneem.

41. Die priesters Eljakim, Maäseja, Mijamin, Miga, Eljoënai, Sagaria en Gananja het die trompette geblaas,

42. gevolg deur Maäseja, Semaja, Eleasar, Ussi, Joganan, Malkija, Elam en Eser. Die koor onder leiding van Jisragja het uit volle bors tot eer van die Here gesing.

43. Op daardie dag het hulle baie offers gebring. Die mense was opgeruimd en vrolik, want God het hulle in staat gestel om die bouprojek suksesvol af te handel. Almal, ook die vroue en kinders, het aan die feesviering deelgeneem. Jy kon die vrolike klanke en musiek van ver af hoor.

Nehemia 12