8. Hierdie dinge sal oor en oor gebeur. Dit is egter niks in vergelyking met wat gaan kom nie. Hierdie dinge moet julle maar net waarsku om gereed te wees vir wat voorlê. Julle gaan baie swaarkry net omdat julle Christene is.
9. Die ongelowiges gaan julle haat met ’n vurige haat. Hulle gaan lekkerkry om te sien hoe julle ter wille van My gemartel en selfs doodgemaak word.
10. Dit sal ook al hoe meer uit die mode raak om kerk toe te gaan en ’n Christen te wees. Wat egter hoog in die mode sal wees, is om mekaar om elke hoek en draai te bedrieg en niks vir mekaar oor te hê nie.
11. Daar sal ook baie mense kom wat hoog en laag sal sweer dat hulle boodskappers van God is. Hulle is natuurlik skaamtelose bedrieërs. Die ergste is dat daar mense sal wees wat hulle gaan glo.
12. “Liefde gaan baie skaars word, want mense sal hulle nie meer steur aan wat God wil hê nie. Julle moet egter nooit God se hand los nie, nooit nie!
13. “So kan julle seker wees dat julle vir ewig saam met Hom sal leef; daarvoor sal Hy self sorg. Een ding is egter seker. Al hierdie haat en vyandskap sal die boodskap van God in hierdie wêreld nie kan stilmaak nie.
14. Die goeie nuus van God moet en sal uitkom vir almal om te hoor. Oor die hele wêreld sal dit weergalm. Dit sal by elke nasie uitkom. “Dan sal die einde van hierdie wêreld kom. Dit sal natuurlik ’n nuwe begin vir elke gelowige beteken.”
15. “As julle in die tempel daardie veragtelike ‘ding’ sien staan wat alles net wil vernietig, moet julle vinnig padgee. Die ‘ding’ is so veragtelik dat Ek nie eens sy naam wil noem nie. Die profeet Daniël het oor hierdie ‘ding’ geskryf. As julle lees wat hy geskryf het, sal julle verstaan wat Ek bedoel.
16. “As julle in daardie stadium in die omgewing van Jerusalem is, moet julle so gou moontlik in die heuwels gaan wegkruip.
17. As jy op jou stoep sit, moenie eers weer in die huis ingaan om enigiets te gaan haal nie.
18. As jy op die lande werk, moenie eers mooi gaan aantrek nie; maak net dat jy wegkom.
19. Ek kry veral vroue jammer wat dan babas verwag of klein babatjies het. Hulle gaan swaarkry!
20. Vra God dat julle nie in die koue van die winter of op die sabbat hoef te vlug nie.
21. Julle wêreld gaan heeltemal deurmekaargekrap word. Mense sal swaarkry soos nog nooit tevore nie.
22. En as hulle kan uithou tot die einde, sal dit net-net wees. Gelukkig sal God die einde op die regte tyd laat kom, anders sal niemand dit haal nie.
23. “As iemand julle dan wil wysmaak dat dit die Christus is wat kom, lag hom uit. Moenie ’n woord glo wat hy sê nie.
24. Daar sal mense kom wat sal voorgee dat hulle die ware Messias is. Hulle gaan almal probeer oortuig dat hulle manne van God is. Dit gaan ook nie net by praat bly nie. O nee! Glo My, hulle gaan sulke wonderlike dinge doen dat mense beïndruk om hulle gaan saamdrom. Hulle sal dit selfs regkry om God se mense ’n rat voor die oë te draai. Maar oppas, dit alles is leuens.
25. Ek waarsku julle nou voor die tyd. Moenie dat julle deur hulle op loop gesit word nie.
26. As die mense dus opgewonde skreeu: ‘Kom, Christus is daar buite die stad op ’n verlate plek,’ moenie julle daaraan steur nie; moenie eens moeite doen om te gaan nie. Of as hulle julle roep: ‘Kom gou, Hy kruip hier in die hart van die stad weg,’ glimlag net vir hulle en gaan julle gang.