7. Toe hulle met die donkies daar aankom, het sy dissipels vir Hom ’n saal van klere gemaak. Toe Jesus begin ry, het baie mense om Hom saamgedrom.
8. Die meeste van hulle het los stukke klere wat hulle by hulle gehad het mooi voor sy donkie oopgevou. Ander het weer boomtakkies op die pad voor Hom gegooi sodat Hy op die groen tapyt kon ry.
9. Hulle het Hom soos ’n koning verwelkom en hard uitgeroep:“Hoera vir die Seun van Dawid! Prys Hom wat op gesag van die Here self kom. Laat die hemel van ons vrolike hoera’s weergalm!”
10. So is Jesus met die hele groep mense Jerusalem in. Dit het nogal ’n opskudding in die stad veroorsaak. “Wat gaan aan? Wie is hy?” het
11. die mense in Jerusalem probeer uitvind. “Dit is Jesus, die profeet uit Nasaret in Galilea,” het mense in Jesus se groep uitgeroep.
12. In Jerusalem is Jesus reguit tempel toe. Langs die hoë tempelgebou was daar ’n groot, oop plein. Dit was ommuur en is as deel van die tempel beskou. Op hierdie tempelplein is allerhande offerdiere verkoop aan die dorpsmense wat nie self diere gehad het nie of aan mense wat ver gereis het en nie diere die hele ent kon saambring nie. Jy kon daar ook vreemde geld omruil vir die regte soort geld wat vir tempelbelasting gebruik is. Die plein was die ene bedrywigheid. Jesus het die gedoente so gekyk en toe die spul daar weggejaag. Tot die tafels en stoele het Hy omgekeer.
13. Vir die mense wat verbaas gestaan en kyk het, sê Hy toe: “Gaan lees wat in die Skrif staan:‘Die bedoeling is dat mense My moet kom aanbid hier waar Ek woon! Julle het dit egter die bymekaarkomplek van skelms en diewe gemaak.’”