Matteus 16:10-19 Die Boodskap (DB)

10. En wat van die ander keer toe Ek vir 4 000 mense met sewe brode kos gegee het? Toe het daar ook ’n hele klomp mandjies vol kos oorgebly.

11. Hoe kan julle dan nog dink dat Ek oor kos gepraat het toe Ek gesê het dat julle moet lig loop vir die suurdeeg van die Fariseërs en die Sadduseërs?”

12. Toe begryp die dissipels dat Jesus nie met hulle gepraat het oor die suurdeeg wat in brood gebruik word nie. Hulle het besef dat Hy hulle wou waarsku teen die verkeerde leringe van die Fariseërs en die Sadduseërs. Dit is soos suurdeeg wat ’n mens se hele lewe deurmekaarkrap.

13. Toe Jesus op ’n dag naby die stad Sesarea-Filippi kom, vra Hy sy dissipels: “Wat sê die mense oor My, die Seun van die mens?”

14. Hulle antwoord: “Party sê U is Johannes die Doper wat weer lewendig geword het. Ander sê weer Elia. Nog ander sê U is Jeremia of een van die profete.”

15. Jesus vra hulle toe trompop: “En wat sê julle van My? Wie is Ek volgens julle?”

16. Simon Petrus het nie ’n oomblik gehuiwer nie: “U is die Christus, die Redder wat deur God na ons gestuur is. U is die Seun van die lewende God.”

17. Daarop sê Jesus: “Jy is baie gelukkig, Simon seun van Jona! Want jy het dit nie by ander mense gehoor nie. Nee, my Vader in die hemel het self hierdie groot waarheid aan jou bekendgemaak.

18. “Noudat jy gesê het wie Ek is, gaan Ek ook vir jou sê wie jy regtig is. Jy is Petrus, die rots. Op hierdie rots sal Ek my kerk bou. Hierdie belydenis is so groot dat selfs nie eens die grootste magte van die hel sterk genoeg is om dit stil te maak nie.

19. “Ek gaan ook vir jou die sleutels van God se nuwe wêreld gee. Jy kan nou die pad daarheen vir ander mense oopsluit en toesluit. Jy moet in my Naam vir mense sê hoe om daar te kom. Op hierdie manier sluit jy dan die deur na God se koninkryk vir hulle oop. Wanneer hulle nie na jou wil luister nie, moet jy vir hulle sê dat God se oordeel op hulle rus. So sluit jy dan die deur soontoe vir hulle toe.”

Matteus 16