Markus 7:21-37 Die Boodskap (DB)

21. Want dit is van binne af, uit wat ’n mens begeer, dat vuil gedagtes groei, soos om ander se goed te vat of jou seksueel sleg te gedra. Laat Ek ’n lysie maak. Ek praat van dinge soos moord, om

22. ontrou te wees in die huwelik, om meer te begeer as wat jy het, om mense kwaad te wil aandoen en allerhande skelmstreke te beplan, om nie om te gee wat jy doen nie, of dit nou reg of verkeerd is, om jaloers te wees op ander mense, om lelik met en van ander te praat, om te veel van jouself te dink en nie jou plek te ken nie en om sommer net ligsinnig te wees.

23. Al hierdie dinge kom uit die binnekant van die mens - dít is dinge waarvan God nie hou nie en dit maak mense voor Hom onrein en onaanvaarbaar.”

24. Van daar af is Jesus na die omgewing van Tirus toe. Hy het stilletjies by ’n huis ingegaan in die hoop dat niemand sou agterkom dit is Hy nie. Maar die plan het nie gewerk nie, want die nuus het vinnig versprei dat Hy daar is.

25. Sonder om ’n oomblik te wag het ’n vrou met haar dogtertjie wat deur ’n bose gees gepla is na Hom toe gekom.

26. (Sy was ’n Griek wat in Siro-Fenisië gebore is.) Sy val toe voor Hom neer en smeek Hom om die bose gees uit haar dogter te verjaag.

27. Jesus antwoord haar toe: “Wag jou beurt af. Dit is mos nie mooi om die geestelike kos uit Israel se mond te vat en dit vir onrein mense te gee wat nie deel van die verbondsvolk van God is nie.”

28. “Ag, dit is waar, Here,” kom die antwoord, “maar onrein mense sal tevrede wees met die stukkies kos van genade wat van die volk van God se tafel afval.”

29. “Dit is ’n goeie antwoord,” sê Jesus. “Gaan maar huis toe, want die demoon is nie meer in jou dogter nie.”

30. Toe sy by die huis kom, kry sy haar dogter op die bed. Die demoon was weg.

31. Van die gebied van Tirus af is Jesus verby die See van Galilea na die gebied wat Tien Stede genoem word. Hy het die pad deur Sidon gevat.

32. Daar gekom, bring hulle ’n man na Jesus toe wat nie kon hoor nie en baie swaar gepraat het. Hulle vra toe vir Jesus om sy hand op die man te sit en hom gesond te maak.

33. Jesus vat toe die man eenkant toe, weg van al die mense af. Hy druk sy vingers in die man se ore en raak met ’n bietjie spoeg op sy vinger aan die man se tong.

34. Jesus kyk toe op hemel toe en met ’n diep sug sê Hy vir die man: “Effata.” (Dit beteken: “Gaan oop.”)

35. Dadelik kon die man hoor en normaal praat.

36. Jesus vra hulle toe mooi om nie vir enigiemand daarvan te vertel nie. Maar dit het nie veel gehelp nie.

37. Die mense kon eenvoudig nie oor al hierdie wonderlike dinge stilbly nie. “Alles wat Hy doen, is eenvoudig goed. Hy laat mense hoor wat doof was en mense wat nie kon praat nie, praat nou normaal.”

Markus 7