Markus 7:11-28 Die Boodskap (DB)

11. Maar kyk wat het julle met Moses se woorde gemaak. Julle sê dat iemand vir sy ouers kan sê: ‘Jammer, ek het niks om vir julle te gee nie en ek kan julle ook nie help as julle hulp nodig het nie, want ek het al my goed vir die Here opsy gesit.’

12. Dan hoef hy niks meer met sy ouers te doen te hê of vir hulle te sorg nie.

13. Wat God wil hê, word dus eenkant toe geskuif. Julle steur julle nie daaraan nie, maar dwing julle eie menslike tradisies op almal af en forseer hulle weer om dit vir hulle kinders te leer. En Ek kan nog baie ander sulke voorbeelde vir julle opnoem.”

14. Toe draai Jesus na al die ander mense toe wat daar gesit het. “Luister nou mooi na My, want Ek wil nie hê julle moet My misverstaan nie.

15. “Dit is nie wat julle eet en so in julle liggaam inneem wat julle onrein maak in God se oë nie. Nee, dit is wat by jou mond uitgaan wat jou vir God onrein maak.”

17. Jesus gaan toe saam met sy paar getrouste volgelinge in die huis in. Nuuskierig vra hulle Hom toe wat Hy bedoel het.

18. Jesus sê toe: “Sjoe, verstaan julle so min van wat Ek gesê het?

19. Weet julle nie dat die kos wat ’n mens eet in jou maag beland en later weer uitgeskei word nie? Dit raak jou nie regtig hier diep binne-in nie en daarom maak dit nie dat God jou nie wil hê nie. (Dit beteken dat Jesus eintlik ook gesê het dat geen kos ’n mens vir God onrein en so onaanvaarbaar kan maak nie.)

20. Wat egter diep uit ’n mens se hart kom, maak die verskil en kan maak dat God niks daarvan hou nie.

21. Want dit is van binne af, uit wat ’n mens begeer, dat vuil gedagtes groei, soos om ander se goed te vat of jou seksueel sleg te gedra. Laat Ek ’n lysie maak. Ek praat van dinge soos moord, om

22. ontrou te wees in die huwelik, om meer te begeer as wat jy het, om mense kwaad te wil aandoen en allerhande skelmstreke te beplan, om nie om te gee wat jy doen nie, of dit nou reg of verkeerd is, om jaloers te wees op ander mense, om lelik met en van ander te praat, om te veel van jouself te dink en nie jou plek te ken nie en om sommer net ligsinnig te wees.

23. Al hierdie dinge kom uit die binnekant van die mens - dít is dinge waarvan God nie hou nie en dit maak mense voor Hom onrein en onaanvaarbaar.”

24. Van daar af is Jesus na die omgewing van Tirus toe. Hy het stilletjies by ’n huis ingegaan in die hoop dat niemand sou agterkom dit is Hy nie. Maar die plan het nie gewerk nie, want die nuus het vinnig versprei dat Hy daar is.

25. Sonder om ’n oomblik te wag het ’n vrou met haar dogtertjie wat deur ’n bose gees gepla is na Hom toe gekom.

26. (Sy was ’n Griek wat in Siro-Fenisië gebore is.) Sy val toe voor Hom neer en smeek Hom om die bose gees uit haar dogter te verjaag.

27. Jesus antwoord haar toe: “Wag jou beurt af. Dit is mos nie mooi om die geestelike kos uit Israel se mond te vat en dit vir onrein mense te gee wat nie deel van die verbondsvolk van God is nie.”

28. “Ag, dit is waar, Here,” kom die antwoord, “maar onrein mense sal tevrede wees met die stukkies kos van genade wat van die volk van God se tafel afval.”

Markus 7