Markus 15:13-23 Die Boodskap (DB)

13. “Kruisig hom!” gil hulle.

14. “Maar hoekom? Wat het hy dan verkeerd gedoen?” vra Pilatus.Die klomp mense het net harder geskree: “Kruisig hom!”

15. Pilatus wou die skare tevrede hou. Daarom het hy maar vir Barabbas laat gaan. Vir Jesus het hy laat martel deur Hom met ’n sweep te laat slaan en toe gesê dat hulle Hom moet kruisig.

16. Die Romeinse soldate vat Jesus toe weg na ’n soort binneplein in Pilatus se paleis. Hulle roep al die ander soldate van hulle afdeling ook.

17. Daar het hulle vir Jesus pers klere aangetrek en ’n kroon wat hulle van dorings gevleg het, op sy kop gedruk sodat Hy kamma soos ’n koning lyk.

18. Toe begin hulle maak asof hulle Hom soos ’n belangrike koning groet: “Bly om u te ontmoet, o koning van die Jode!” skree hulle.

19. Weer en weer het hulle Hom met ’n stok oor die kop geslaan en op Hom gespoeg. Dan val hulle weer kamma op hulle knieë en maak asof hulle Jesus as ’n vreeslik belangrike persoon eer.

20. Toe hulle uiteindelik moeg was om Jesus so te spot, trek hulle die pers klere uit en trek Jesus se eie klere weer vir Hom aan. Toe vat hulle Jesus na die plek toe waar Hy gekruisig moes word.

21. ’n Sekere man wat oorspronklik van Sirene in Afrika af gekom het, het juis toe daar verbygestap. Hy was op pad van die platteland af dorp toe. Sy naam was Simon en sy kinders was Aleksander en Rufus.

22. Die soldate gee hom toe sommer die kruis en sê hy moet dit na Golgota, oftewel die “Plek van die Kopbeen”, toe dra.

23. Daar wou hulle Hom wyn wat met galbitter kruie gemeng is, gee om sy pyn so ’n bietjie te stil. Jesus wou dit nie vat nie.

Markus 15