23. As daar dan nou ’n opstanding na die dood is, soos jy beweer, met watter man gaan hierdie vrou dan in die hemel getroud wees? Hier op aarde was sy mos met al sewe getroud.”
24. Jesus sê toe: “Dit is nou ’n dom vraag. Julle ken nie julle eie Skrif nie en julle weet nog minder hoe sterk God regtig is.
25. As die mense eendag uit die dood weer lewendig word, sal hulle nie meer trou nie. Hulle sal op dieselfde manier bestaan as die ander hemelse wesens wat natuurlik ook nie trou nie. Dit beantwoord nou julle vraag. Maar kom ons gesels ’n bietjie verder oor mense wat uit die dood gaan opstaan.
26. Die Skrif vertel mos hoe Moses daar gestaan het by die bos wat so gebrand het en hoe God vir hom gesê het: ‘Ek is nou nog die God van Abraham, ja, die God van Isak en die God van Jakob.’
27. God is nie ’n dooie God of die God van die dooies nie. Julle wil dit nie glo nie, maar glo My, julle maak ’n reusefout.”
28. ’n Geleerde Jood wat veral goed was met die uitlê van wat die Skrif sê, kom toe daar verby. Hy het gehoor met watter goeie antwoord Jesus die Sadduseërs in ’n hoek gedryf het. Hy begin toe ook met Jesus argumenteer: “As ’n mens nou aan al die opdragte en wette van God dink, watter een dink jy is die belangrikste?”
29. Jesus antwoord toe: “Boaan die lys staan: Luister mooi, die Here ons God is die enigste Here wat daar is.
30. Jy moet Hom liefhê met alles wat jy is en het. Niks in jou lewe mag vir jou so belangrik soos God wees nie.
31. Maar langs hierdie opdrag staan ’n tweede een: jy moet ander mense so liefhê asof hulle jy self is. Daar is nie ’n ander opdrag wat naby hierdie twee kom nie.”
32. “Jy het dit baie mooi gestel. Ek kan sien dat jy mense goed kan leer,” sê die Joodse geleerde toe. “Dit is waar, daar is net een God en daar is geen ander nie.
33. Dat ons Hom moet liefhê met alles wat ons is en het, is regtig baie belangriker as allerhande godsdienstige dingetjies wat ons doen, soos om geskenke vir God tempel toe te bring of om spesiaal tempel toe te kom om aan God te offer.”
34. Jesus kon sien dat hierdie Joodse geleerde weet waarvan hy praat en het toe vir hom gesê: “Jy is baie naby aan God se nuwe wêreld.” Die vrae het opgedroog, want niemand het meer kans gesien om met Jesus in ’n argument betrokke te raak nie.
35. Jesus was weer in die tempel besig om mense van God te vertel. Hy vra toe vir die mense by Hom: “Hoekom sê die Joodse skrifkenners dat die beloofde Redder uit die familie van koning Dawid gaan kom?