Markus 11:11-22 Die Boodskap (DB)

11. Toe Jesus in Jerusalem aankom, is Hy dadelik na die tempel toe. Hy het ’n bietjie daar rondgekyk, maar dit was al laat. Daarom het Hy en sy volgelinge besluit om na Betanië terug te gaan.

12. Die volgende dag is Jesus-hulle terug Jerusalem toe. Op pad het Jesus honger geword.

13. Hy sien toe ’n entjie van hulle af ’n vyeboom met blare aan. Hy gaan kyk toe of daar iets aan die boom is om te eet. Dit was ongelukkig nie vyetyd nie, met die gevolg dat die boom net vol blare was.

14. “Niemand sal ooit weer van jou vrugte eet nie,” sê Jesus toe vir die boom. Sy dissipels het Hom dit hoor sê.

15. In Jerusalem is Jesus dadelik tempel toe. Langs die tempelgebou was daar ’n groot plein. Daar was ’n muur om sodat dit as deel van die tempel beskou is. Daar was ’n hele bedrywigheid soos die mense diere gekoop en verkoop het wat nodig was vir die offers in die tempel. Daar en dan het Jesus al die besigheidsmense begin uitjaag. Daar was ook mense wat geld geruil het. Daar kon jy jou geld omruil vir die regte geld wat vir die tempelbelasting nodig was. Jesus het al hulle tafels omgekeer en die stoele van die duiweverkopers omgestamp.

16. As iemand nog iets deur die plein wou dra om te gaan verkoop, het Jesus hom voorgekeer en uitgejaag.

17. Jesus verduidelik toe vir hulle wat aangaan: “Staan daar nie in die Skrif nie: ‘Die bedoeling is dat al die mense in die wye wêreld My moet kom aanbid hier waar Ek woon’? Julle het dit egter die bymekaarkomplek van diewe en skelms gemaak.”

18. Die Joodse godsdienstige leiers het daarvan gehoor. Hulle het toe planne begin beraam om Jesus uit die weg te ruim. Hulle was bang dat Jesus te gewild sou begin word, want hulle het geweet dat die mense baie beïndruk was met wat Jesus alles vir hulle vertel het.

19. Toe dit begin donker word, is Jesus-hulle weer uit Jerusalem uit weg.

20. Die volgende môre toe hulle weer by daardie vyeboom verbystap, sien hulle dat die vyeboom wortel en tak dood is.

21. Petrus onthou toe wat Jesus die vorige dag gesê het: “Here, kyk! Die boom waarmee U gister so kwaai gepraat het, is dood.”

22. Jesus sê toe: “Vertrou God vir alles. Luister nou mooi. As julle God regtig vertrou, sal julle dinge kan doen wat dít wat met die vyeboom gebeur het na kinderspeletjies sal laat lyk.

Markus 11