Lukas 19:23-39 Die Boodskap (DB)

23. Kon jy nie maar my geld in ’n bank gesit het nie? Dan kon ek ten minste rente op die geld gekry het.

24. Vat hierdie man se geld weg en gaan gee dit aan daardie werker wat my geld vertiendubbel het.’

25. “Die ander werkers was baie verbaas daaroor: ‘Maar, Meneer, hy het dan mos al klaar tien maal soveel geld as aan die begin. Waarom moet hy nog kry?’

26. “Toe antwoord die heerser: ‘Almal wat bereid is om skouer aan die wiel te sit en hard te werk met dit wat hulle het, sal nog meer kry. Maar wie niks doen nie, sal uiteindelik ook nog die bietjie verloor wat hulle het.

27. “‘En wat daardie spul mense hier in die omgewing betref wat nie wou hê ek moet die heerser word nie - bring hulle hier en maak hulle dood, sommer hier reg voor my.’”

28. Toe Jesus hierdie verhaal klaar vertel het, het Hy sy reis na Jerusalem voortgesit.

29. Hy kom toe by Betfage aan die voet van die Olyfberg, nie ver van Jerusalem af nie.

30. “Gaan gou na Betfage toe,” sê Jesus vir twee van sy volgelinge. “Nes julle die dorp inkom, sal julle ’n jong donkie daar kry. Niemand het nog ooit op hom gery nie. Bring hom vir My.

31. As iemand vra wat julle doen, sê dan: ‘Die Here het hierdie donkie nodig.’”

32. Die twee volgelinge het toe na Betfage gegaan en die jong donkie daar gekry.

33. Terwyl hulle hom losmaak, kom sy eienaars daar aan en sê: “Wat vang julle aan? Hoekom maak julle die donkie los?”

34. “Die Here het hom nodig,” het hulle geantwoord.

35. Hulle bring toe die donkie na Jesus toe. Daarna het die dissipels hulle klere gevat en ’n saal vir Hom gemaak waarop Hy kon sit.

36. Toe Jesus begin ry, het hulle hulle klere uit respek voor Hom in die pad neergesit.

37. Toe Jesus naby die lang afdraande kom wat van die Olyfberg af na Jerusalem toe loop, het ’n groot klomp van sy volgelinge begin om God hardop te loof en te prys. Hulle was baie bly oor al die groot dinge wat Hy gedoen het.

38. Hulle het Jesus soos ’n koning daar in Jerusalem verwelkom en hard uitgeroep: “Prys Hom wat as Koning in die Naam van die Here kom! Nou seëvier God se hemelse vrede. Al die eer kom die allerhoogste God toe.”

39. ’n Klompie Fariseërs wat ook in die skare was, was baie geskok oor hierdie woorde. Hulle sê toe: “Leermeester, hou jou dissipels in toom! Jy kan mos nie toelaat dat hulle sulke dinge oor jou sê nie!”

Lukas 19