17. “‘Ongelooflik! Jy was getrou aan my selfs tot in die heel kleinste dingetjies. Daarom stel ek jou van nou af aan as die hoof oor tien stede in my landgebied.’
18. “Die tweede werker kom toe en sê: ‘Meneer, ek het die geld wat u my gegee het vyf maal meer gemaak.’
19. “Die heerser was bly daaroor: ‘Van vandag af maak ek jou die hoof van vyf stede in my landgebied.’
20. “Werker nommer drie het toe sy opwagting gemaak en gesê: ‘Ag, Meneer, hier is al die geld veilig terug wat u aan my gegee het.
21. Omdat ek weet u is ’n harde man, het ek besluit om u geld veilig weg te steek. Want u is iemand wat vat sonder om te gee en wat oes waar u nie geplant het nie.’
22. “Die heerser sê toe: ‘Jy is regtig ’n hopelose werker, ’n nikswerd! Jy weet ek is baie streng en verwag net die beste van julle.
23. Kon jy nie maar my geld in ’n bank gesit het nie? Dan kon ek ten minste rente op die geld gekry het.
24. Vat hierdie man se geld weg en gaan gee dit aan daardie werker wat my geld vertiendubbel het.’
25. “Die ander werkers was baie verbaas daaroor: ‘Maar, Meneer, hy het dan mos al klaar tien maal soveel geld as aan die begin. Waarom moet hy nog kry?’
26. “Toe antwoord die heerser: ‘Almal wat bereid is om skouer aan die wiel te sit en hard te werk met dit wat hulle het, sal nog meer kry. Maar wie niks doen nie, sal uiteindelik ook nog die bietjie verloor wat hulle het.
27. “‘En wat daardie spul mense hier in die omgewing betref wat nie wou hê ek moet die heerser word nie - bring hulle hier en maak hulle dood, sommer hier reg voor my.’”
28. Toe Jesus hierdie verhaal klaar vertel het, het Hy sy reis na Jerusalem voortgesit.
29. Hy kom toe by Betfage aan die voet van die Olyfberg, nie ver van Jerusalem af nie.
30. “Gaan gou na Betfage toe,” sê Jesus vir twee van sy volgelinge. “Nes julle die dorp inkom, sal julle ’n jong donkie daar kry. Niemand het nog ooit op hom gery nie. Bring hom vir My.
31. As iemand vra wat julle doen, sê dan: ‘Die Here het hierdie donkie nodig.’”