Lukas 17:27-37 Die Boodskap (DB)

27. Al wat vir hulle saak gemaak het, was om elke dag te eet en te drink en om te wonder wie nou weer met wie getrou het. Toe klim Noag in die ark. Daarna het dit begin reën en reën. Uiteindelik het alles weggespoel. Ja, daar het niks oorgebly nie.

28. “Nog ’n voorbeeld: julle onthou mos nog vir Lot. In sy tyd het dit presies net so gegaan. Die mense het normaalweg met hulle lewens aangegaan. Hulle het besigheid gedoen, partytjies gehou, hulle lande bewerk en huise gebou.

29. Toe gee Lot uit Sodom pad. Vuur en swael het op Sodom begin neerreën. Almal was dood.

30. Dit sal presies net so gaan wanneer die Seun van die mens terugkom.

31. Dan sal daar nie vir mense tyd wees om te vlug nie. As jy op jou stoep sit, moenie eers gou in jou huis ingaan om iets te vat nie. Dit gaan in elk geval nie help nie. En as jy buite op die lande werk, moenie eers teruggaan huis toe om skoon klere te gaan aantrek nie. Moet ook nie al jou kosbare besittings gaan haal nie. Nee, gee pad!

32. Onthou wat met Lot se vrou gebeur het. Toe sy teruggekyk het na haar stad daardie dag toe God dit vernietig het, het sy op die plek in ’n soutpilaar verander.

33. “Op daardie dag wanneer die Seun kom, sal dit te laat wees om gou met God te probeer vrede maak. Sorg dat julle lewe nou al in orde is. As julle God nou al dien, sal julle op daardie dag gered word. Maar as julle nou niks met Hom te doen wil hê nie, sal julle op daardie dag veroordeel word.

34. “Wanneer die Seun terugkom, sal dit ’n dag van groot skeiding tussen mense wees. In dieselfde huis sal die ma byvoorbeeld gereed wees vir my koms, maar nie die pa nie. Ek sal haar saamvat na my splinternuwe wêreld toe en hom los.

35. Net so sal twee vroue saam in die kombuis werk - Ek sal die een kom haal en die ander een los. Dieselfde sal ook by die werk gebeur.

36. Twee mans sal saam werk - die een sal reg wees en die ander een nie. Sorg dat jy die een is wat reg is sodat Ek jou kan saamvat wanneer Ek weer kom!”

37. Toe vra die dissipels: “Waar gaan al hierdie dinge gebeur?” “Sommer daar tussen julle,” het Jesus geantwoord. “Daar waar die mense is, sal die aasvoëls op hulle almal toesak.”

Lukas 17