15. Op pad soontoe het hulle melaatsheid verdwyn. Hulle vel was skielik weer normaal. Een van die mans was so bly daaroor dat hy dadelik omgedraai het. Hy het hardop begin bid en God se Naam grootgemaak.
16. Die man het tot by Jesus gehardloop, voor Hom in die stof neergeval en vir Hom dankie gesê. Hy was ’n Samaritaan.
17. Toe sê Jesus vir hom: “Julle is mos tien persone wat nou net gesond geword het. Nou waar’s die ander nege dan?
18. Dit lyk My hulle glo nie God het hulle eens en vir altyd genees nie. Daarom dat hulle nie omgedraai en kom dankie sê het soos jy nie. Jy begryp baie beter as daardie nege Israeliete wie Ek is.
19. Staan nou op en gaan in vrede. Jou geloof het gemaak dat jou saak met God nou in orde is.”
20. Die Fariseërs het op ’n dag vir Jesus gesê: “Kyk, jy praat so baie oor God se nuwe wêreld. Sê vir ons, wanneer gaan dit aanbreek?”
21. “Julle verstaan My heeltemal verkeerd,” het Jesus geantwoord. “Wanneer Ek vir julle sê dat God se nuwe wêreld hier is, bedoel Ek nie dat dit iets is wat julle met die blote oog kan sien nie. Mense kan byvoorbeeld nie sê: ‘God se nuwe wêreld is in daardie dorp’ of: ‘God se nuwe wêreld is hier in ons stad’ nie. Nee, God se nuwe wêreld is iets wat binne-in jou lewe gebeur. Wanneer jy aan my kant kom staan, verander jou lewe van binne af. Dan is jy ’n burger van God se nuwe wêreld.”
22. Toe draai Jesus na sy volgelinge toe en sê vir hulle: “Ek moet egter nog iets oor God se nuwe wêreld vir julle sê. Daar gaan wel ook ’n dag aanbreek wanneer almal hierdie nuwe wêreld met hulle eie oë sal sien. Dit is op dié dag wanneer Ek, die Seun van die mens, terugkom na hierdie wêreld toe. Maar totdat dit gebeur, wag daar swaar tye op julle. Baie dae sal julle bid dat die Seun tog moet terugkom, maar dit sal nie gebeur nie.
23. “Moet julle nie steur aan almal wat gedurig sommetjies maak oor wanneer die Seun gaan terugkom nie. As iemand julle probeer wysmaak dat hulle weet, lag hulle uit. As hulle sê: ‘Kom, die Messias is in die stad,’ vergeet dit. Of as hulle sê: ‘Hy is daar anderkant,’ moenie die moeite doen om te gaan kyk nie. Moenie ’n woord daarvan glo nie.
24. “Wees verseker: almal sal weet wanneer die Seun van God terugkom; almal. Julle het mos al gesien hoe die weerlig in die nag ver op die horison slaan en die hele hemelruim verlig. Dan kan jy ’n oomblik lank alles om jou sien. Wel, wanneer die Seun kom, sal almal Hom net so helder en duidelik sien.
25. Maar voordat dit alles gebeur, lê daar eers ’n baie moeilike tyd vir My voor. Eers moet die mense My verwerp en doodmaak.
26. “Kom Ek verduidelik met ’n voorbeeld wat Ek bedoel. Julle almal ken die verhaal van Noag. Wel, terwyl Noag die ark gebou het, het die ander mense om hom normaal aangegaan asof niks gebeur nie.
27. Al wat vir hulle saak gemaak het, was om elke dag te eet en te drink en om te wonder wie nou weer met wie getrou het. Toe klim Noag in die ark. Daarna het dit begin reën en reën. Uiteindelik het alles weggespoel. Ja, daar het niks oorgebly nie.
28. “Nog ’n voorbeeld: julle onthou mos nog vir Lot. In sy tyd het dit presies net so gegaan. Die mense het normaalweg met hulle lewens aangegaan. Hulle het besigheid gedoen, partytjies gehou, hulle lande bewerk en huise gebou.
29. Toe gee Lot uit Sodom pad. Vuur en swael het op Sodom begin neerreën. Almal was dood.
30. Dit sal presies net so gaan wanneer die Seun van die mens terugkom.
31. Dan sal daar nie vir mense tyd wees om te vlug nie. As jy op jou stoep sit, moenie eers gou in jou huis ingaan om iets te vat nie. Dit gaan in elk geval nie help nie. En as jy buite op die lande werk, moenie eers teruggaan huis toe om skoon klere te gaan aantrek nie. Moet ook nie al jou kosbare besittings gaan haal nie. Nee, gee pad!
32. Onthou wat met Lot se vrou gebeur het. Toe sy teruggekyk het na haar stad daardie dag toe God dit vernietig het, het sy op die plek in ’n soutpilaar verander.
33. “Op daardie dag wanneer die Seun kom, sal dit te laat wees om gou met God te probeer vrede maak. Sorg dat julle lewe nou al in orde is. As julle God nou al dien, sal julle op daardie dag gered word. Maar as julle nou niks met Hom te doen wil hê nie, sal julle op daardie dag veroordeel word.