Lukas 14:1-18 Die Boodskap (DB)

1. Toe die sabbatdag aanbreek, het Jesus by een van die leiers van die Fariseërs gaan eet. Oudergewoonte het hulle Hom fyn dopgehou, want teen daardie tyd het hulle baie goed geweet dat Jesus Hom nie veel aan hulle reëls en wette steur nie.

2. Intussen het Jesus gesien dat daar ’n man onder hulle was met ’n liggaamlike afskeiding wat hom onrein maak.

3. Toe draai Hy na die ander godsdienstige leiers toe wat ook daar was vir die ete en vra hulle: “Sê My, mag ’n mens iemand wat siek is op die sabbat gesond maak, of nie? Wat sê julle?”

4. Maar niemand het ’n woord gesê nie. Hulle het net doodstil bly sit. Toe stap Jesus na die siek man toe, maak hom gesond en stuur hom terug na sy huis toe.

5. Jesus vra toe vir die godsdienstige leiers: “Wat sal julle doen as een van julle kinders of een van julle diere op die sabbatdag in ’n diep sloot vol water val? Sal julle hulle nie dadelik uithaal nie?”

6. Die godsdienstige leiers was nou in ’n hoek. Hulle het geweet as hulle ja sê, sou Jesus vir hulle sê dat dit presies was wat Hy nou vir die siek man gedoen het. Daarom het hulle stilgebly.

7. ’n Rukkie later, toe die gasheer vir die gaste sê om te kom aansit vir ete, merk Jesus op hoe almal skarrel om die beste plekke aan tafel te kry.

8. Toe sê Hy vir hulle: “Moenie altyd hardloop vir die beste plek as jy na ’n belangrike geleentheid toe uitgenooi word nie. Netnou gaan sit jy dalk op ’n plek wat vir ’n eregas bespreek is.

9. Dink net hoe skaam jy dan sal kry as die gasheer daar voor almal vir jou kom sê: ‘Verskoon tog, maar hierdie plekke is eintlik vir die eregaste bedoel. Soek vir jou ’n ander plek.’ Dan moet jy met ’n rooi gesig opstaan en op die slegste plek gaan sit.

10. “Gaan sit liewer daar agter tussen die ander mense as jy na ’n belangrike funksie toe genooi word. Kies doelbewus die swakste plek uit. Wie weet, dalk kom die gasheer na jou toe en sê: ‘Ag nee, vir wat sit jy hier agter? Daar voor is ’n baie beter plek. Kom sit daar by my.’ Dan sal almal wat saam met jou aan tafel sit, sê: ‘Sjoe, dat so ’n belangrike persoon so nederig is om hier tussen ons te sit!’

11. Onthou: nederige mense word op die ou end met eer bekroon en belangrike mense word verneder.”

12. Toe draai Jesus na die gasheer toe en sê vir hom: “As jy weer ’n groot ete of ’n fees hou, moet dan nie hierdie spul weer uitnooi nie. Haal al jou vriende en al jou familielede en die vernames se name van jou gastelys af. Moet ook nie daardie ryk bure van jou uitnooi nie. Dan is hulle almal weer onder die verpligting om jou vir ’n ete terug uit te nooi. En so gaan dit dan heeltyd aan.

13. Nee, as jy weer ’n slag ’n partytjie hou, moet die volgende mense op jou uitnodigingslys wees: almal wat arm is en niks het om te eet nie, en almal wat siek is en swaarkry, veral diegene wat hulle ledemate verloor het of wat kreupel en blind is.

14. “As jy sulke mense uitnooi, is jy ’n baie gelukkige mens. Hulle het niks om vir jou mee dankie te sê nie. Maar dit maak nie saak nie, want God sien raak wat jy doen. En Hy onthou dit. Op die laaste dag wanneer al sy kinders daar voor Hom bymekaar is, wag daar ’n groot geskenk vir jou van God self.”

15. Een van die gaste wat saam met Jesus aan tafel was, sê toe: “Sjoe, wat ’n voorreg moet dit nie wees om eendag daar in God se nuwe wêreld ’n plek te kan kry nie!”

16. Jesus draai na hom toe en sê vir hom: “Weet jy, eendag het ’n ryk man ’n groot feesmaal gehou en baie mense uitgenooi. Omdat daar baie voorbereidings was, het hy met die gaste afgespreek dat hy hulle sou laat roep sodra alles gereed was. So gesê, so gedaan.

17. Later, toe die kos reg was, stuur die man een van sy helpers om al die genooides te laat weet: ‘Julle kan nou maar kom, die tafels staan gelaai met die heerlikste kos. Laat die fees begin.’

18. “Maar toe gebeur daar ’n snaakse ding. Al die genooides het skielik kop uitgetrek. Die een het gesê: ‘U moet my asseblief verskoon. Ek het so pas ’n stuk grond gekoop. Nou moet ek gou gaan kyk hoe dit lyk.’

Lukas 14