48. Aan die ander kant, daardie werker wat nie mooi geweet het wat sy eienaar van hom verwag nie, maar wat drooggemaak het, sal nie so swaar soos die eerste werker gestraf word nie. “So gaan dit ook in God se wêreld. Hoe meer verantwoordelikhede daar aan mense toevertrou word, hoe groter plig rus daar op hulle skouers om te doen wat God vra. Op die laaste dag sal daar van hulle groter rekenskap gevra word as van ander.”
49. “My werk is om alles hier op aarde van hoek tot kant te kom verander. En hoe wens Ek nie dat dit al begin nie!
50. Net soos ’n reusevuur alles aan die brand steek, kom steek Ek die hele wêreld aan die brand. Daar lê egter eers ’n groot ‘vuurdoop’ vir My voor. Eers moet Ek baie swaarkry. Dit is nie ’n lekker vooruitsig nie.
51. “Dink julle almal gaan nou skielik in vrede met mekaar leef omdat Ek hier is? Nee, inteendeel. Van nou af gaan mense eers baklei.
52. Selfs in dieselfde huisgesin sal mense oor My verdeeld wees.
53. ’n Ma en haar seun sal byvoorbeeld in My glo, terwyl die pa en sy dogters weier om My te dien. Pa’s en seuns sal van nou af mekaar haat oor My. Ma’s en hulle dogters sal haaks wees om dieselfde rede; so ook ganse families. Ek gaan nog maak dat baie mense niks met mekaar te doen wil hê nie.”
54. Jesus sê toe vir die mense wat na Hom luister: “Julle is sulke goeie weervoorspellers! As julle ’n wolk daar uit die weste sien aankom, sê julle: ‘Dit kom reën.’ En dan gebeur dit ook.
55. En wanneer die suidewind begin waai, sê julle: ‘Nou gaan ons uitbraai van die hitte.’ En dan gebeur dit ook.
56. “Ek verstaan julle spul skynheiliges glad nie. Julle is sulke goeie weervoorspellers. Julle kan presies sê wanneer dit gaan reën en wanneer dit warm gaan wees, maar julle kan glad nie die tyd reg lees nie.
57. Besef julle nie hoe laat dit al op God se groot horlosie is nie?
58. “Julle weet ook nie hoe om reg teenoor ander mense op te tree nie. Kyk net hoe dikwels beland julle in die hof. Dit is omdat julle nie bereid is om die saak voor die tyd te gaan uitpraat met mense wat julle hof toe wil vat nie. Moenie so hardkoppig wees nie. Gaan maak dinge tussen julle en ander mense reg voordat julle in die hof beland.
59. Wie weet, later word julle skuldig bevind en dan moet julle ’n lang tyd in die tronk gaan sit.”