Lukas 11:31-45 Die Boodskap (DB)

31. “Maar gaan leer nog iets by Jona. Die mense van Nineve vir wie hy gepreek het, het na sy woorde geluister en hulle bekeer. Net soos Jona vir hulle ’n teken van God af was, net so is Ek, die Seun van die mens, die Teken van God vir hierdie sondige geslag.“Gaan kyk ook na die koningin van die suide wat op ’n dag na koning Salomo toe gekom het. Sy het baie ver gereis om sy wysheid te kom aanhoor. Weet julle, selfs sy sal op die laaste dag opstaan en as regter optree oor die sondige mense van hierdie geslag. Maar julle besef nie dat hier voor julle Iemand staan wat duisend maal belangriker as Salomo is nie. As die koningin van die suide bereid was om na Salomo te luister, hoeveel te meer moet julle dan nie na my woorde luister nie?

32. “Die mense van Nineve sal op die finale oordeelsdag as regters oor hierdie sondige geslag oordeel. Want hulle het hulle bekeer toe Jona met hulle gaan praat het. Dit is baie meer as wat van julle spul gesê kan word. Hier voor julle staan Iemand wat duisend maal belangriker is as Jona, en wat maak julle? Julle wil nie luister nie!”

33. “’n Mens sit nie in die aand ’n lig in jou huis aan en gaan steek dit dan onder ’n bed weg nie. Natuurlik nie. Nee, ’n mens sit ’n lig op so ’n plek in die huis dat dit vir almal kan lig gee. Dan sien hulle mos wat om hulle aangaan. Julle moet ook so maak. Wees ’n lig vir ander wat nog in die donker leef.

34. “Jou oë is soos ’n lig. As jy op die regte manier daarmee kyk, maak dit alles in jou lewe helder. Maar as jy jou oë nie deur God laat instel om reg te kyk nie, maak jou oë jou hele lewe pikdonker.

35. As daar geen goddelike lig in jou lewe skyn nie, is dit regtig nag binne-in jou.

36. Maar aan die ander kant: as jou hele lewe vol lig is, is al die donker uit jou lewe verdryf. Dan loop jy nie meer in die een sonde na die ander vas nie. Nee, dan weerkaats al jou woorde en dade God se helder lig.”

37. Terwyl Jesus nog besig was om met die mense te praat, het een van die Fariseërs vir Hom gesê: “Kom eet by my.” Jesus het saam met hom na sy huis toe gegaan. Daar aangekom, het Jesus dadelik aan tafel gaan sit sonder om sy hande te was.

38. Die Fariseër was verstom hieroor.

39. Jesus sê toe vir hom: “Ja, julle spul Fariseërs laat My dink aan mense wat net die buitekant van ’n beker en ’n skottel skoonmaak, maar die binnekant so vuil los. Julle is so verskriklik skoon en netjies op die oog af, maar binne-in julle wemel dit van die kwaad en van slegte dinge.

40. Julle dwase! Weet julle nie dat God ons nie net met ’n buitekant gemaak het nie, maar ook met ’n binnekant?

41. Hoekom gee julle nie ook julle binnekant vir Hom nie? Dan is julle regtig silwerskoon, binne en buite!

42. “Ek waarsku julle spul Fariseërs: swaar tye wag op julle wanneer julle die dag voor God moet gaan staan. Julle werk die tiendes wat julle aan God gee tot op die laaste sent korrek uit. Maar wanneer dié dinge gedoen moet word wat regtig vir Hom saak maak, skitter julle in julle afwesigheid. Ek praat van dinge soos om te sorg dat reg en geregtigheid geskied en om met julle hele lewe te wys dat julle God liefhet. Ek sê nie die ander dinge wat julle doen, is verkeerd nie. Maar dit is niks werd as julle nie ook daardie dinge doen wat regtig vir God saak maak nie.

43. “Swaar tye wag nog vorentoe op julle spul. In die godsdienstige byeenkomste hoef ’n mens nie eens na julle te soek nie. Julle sit mos daar op die belangrikste plekke waar niemand julle kan miskyk nie. En dis tog te lekker vir julle om in die winkels of op straat so eerbiedig deur almal gegroet te word.

44. “Swaar tye wag nog vorentoe op julle spul. Julle laat My dink aan ’n klompie weggesteekte grafte waarop almal trap sonder dat hulle dit besef. Julle is eintlik morsdood - julle steek dit net baie goed weg.”

45. Een van die kenners van die wet wat saam met Jesus aan tafel was, het Hom skielik onderbreek: “Kyk, jy mag miskien ’n soort leermeester wees, maar nou raak jy beledigend. Jy is nou ook besig om my en my kollegas wat wetskenners is hier voor almal aan te vat.”

Lukas 11