Lukas 1:63-80 Die Boodskap (DB)

63. Sagaria het beduie dat iemand vir hom ’n stukkie papier en ’n skryfding moet bring. Daarop skryf hy toe: “Sy naam is Johannes.” Almal was uit die veld geslaan daaroor.

64. Terwyl almal nog verwonderd rondstaan, het Sagaria se stem skielik teruggekeer. Hy kon nou weer praat. Dadelik het hy God se Naam begin loof en prys.

65. Die hele omgewing is diep geraak deur alles wat met Sagaria en Elisabet gebeur het. Almal was bewus van God se grootheid.

66. Hulle kon eenvoudig nie ophou praat oor hierdie wonderwerk nie. “Wat lê nog alles vir hierdie kind voor?” het die mense onder mekaar gevra. Almal kon sien dat God by Johannes was.

67. Die Heilige Gees het Sagaria vervul. Hy het toe oor God se verlossingsplan begin praat en sy Naam grootgemaak:

68. “Loof die Here, die God van Israel! Hy het na sy volk toe gekom. Hy het hulle kom verlos. God het ’n magtige Redder na ons toe gestuur.

69. Hierdie Redder kom uit die nageslag van Dawid, die kneg van die Here. Die Here het al lankal belowe dat Hy dit sal doen.

70. Die profete wat Hy gestuur het om sy wil bekend te maak, het daaroor gepraat.

71. God het belowe dat Hy ons sal red uit die hand van almal wat ons haat

72. en dat Hy ons sal oorlaai met sy goedheid.

73. Dit alles het Hy in sy spesiale ooreenkoms met ons voorvaders belowe. God het sy beloftes onthou; ook daardie plegtige belofte aan Abraham:

74. God het onthou dat Hy ons van ons vyande sal red

75. sodat ons Hom voluit kan dien, sonder enige vrees of kommer - elke dag van ons lewe.

76. “En jy, my seuntjie, die mense sal jou noem: ‘Boodskapper van die Allerhoogste.’ Jy sal voor die Here uitstap en sy pad gelyk maak.

77. Jy sal vir sy volk vertel hoe hulle by God kan uitkom. Jy sal hulle leer hoe hulle sondes vergewe kan word.

78. God is so ongelooflik goed vir ons. Binnekort sal sy genade soos die son oor ons donker wêreld begin skyn.

79. Hy sal lig maak vir almal wat in die donker leef, ook vir hulle wat in die donker kloue van die doderyk vasgevang is. God sal ons weer op die pad van vrede laat stap.”

80. Johannes het vinnig grootgeword. Die krag van die Gees was in sy lewe te sien. Hy het eenkant in die woestyn gebly tot op die dag dat hy onder die Israeliete begin preek het.

Lukas 1