Lukas 1:4-15 Die Boodskap (DB)

4. U sal deur die loop van my verhaal agterkom dat alles wat u in die kerk geleer het, die volle waarheid is.

5. My verhaal begin by Sagaria. Hy was ’n priester en ’n lid van die priesterlike diensgroep van Abia. Dit was in die tyd toe Herodes die koning van Judea was. Sagaria se vrou was Elisabet. Sy kom uit Aäron se nageslag.

6. Hulle was twee goeie mense wat God se voorskrifte gehoorsaam het. Hulle het nooit ’n voet verkeerd gesit nie.

7. Sagaria en Elisabet was kinderloos, want Elisabet kon nie kinders hê nie. Hulle albei was ook al baie oud.

8. Op ’n dag, toe dit Sagaria se beurt was om as priester in God se tempel in Jerusalem diens te doen,

9. het die lot op hom geval om wierook op die altaar te gaan brand.

10. Terwyl Sagaria in die tempel daarmee besig was, het ’n groot skare buitekant gebid.

11. Skielik het ’n engel aan hom verskyn, daar aan die regterkant van die wierookaltaar.

12. Sagaria het hom boeglam geskrik.

13. Maar die engel het hom gerusgestel: “Moenie bang wees nie, Sagaria. God het jou gebede verhoor. Jou vrou Elisabet gaan binnekort ’n seun hê. Noem hom Johannes.

14. Hy gaan nog groot vreugde in jou lewe bring, ook in baie ander mense se lewe.

15. God het hom uitgekies vir ’n baie belangrike taak. “Johannes mag nooit wyn of sterk drank drink nie. Die Heilige Gees sal reeds van voor sy geboorte af by hom wees.

Lukas 1