Johannes 3:3-21 Die Boodskap (DB)

3. Jesus antwoord hom toe: “Weet jy, Ek wil nou vir jou iets belangriks sê. As iemand nie nog ’n keer gebore word nie, sal hy sowaar nie deel word van die ryk waar God Koning is nie.”

4. “Hoe is dit moontlik om as jy al groot en oud is, nog ’n keer gebore te word?” vra Nikodemus Hom. “’n Mens kan mos nie ’n tweede maal in jou ma terugklim om weer ’n keer gebore te word nie.”

5. “Luister baie mooi wat Ek vir jou sê,” kom dit van Jesus. “Die pad na die ryk waar God Koning is, is toe vir elkeen wat nie gebore word uit lewende water en die Heilige Gees nie.

6. Immers, ’n kind wat uit ’n mens gebore word, is maar net ’n mens. Wie egter uit die Gees gebore word, begin geestelik lewe.

7. “Daarom moet jy nie vol allerhande vraagtekens wees oor my woorde dat julle nog ’n keer gebore moet word nie. Leer uit die natuur.

8. Hoewel jy die wind hoor waai, kan jy dit tog nie beheer of stuur nie. Dit waai waar dit wil. Jy weet nie eens presies waar dit vandaan kom of waarheen dit uiteindelik waai nie. Maar nogtans waai dit. Presies dit is waar van die manier waarop die Gees werk. Elke persoon wat uit die Gees gebore word, ervaar dit ook so.”

9. “Hoe op aarde kan dit wees?” vra Nikodemus.

10. Jesus gaan toe voort: “Hoe is dit moontlik dat jy nie hierdie dinge verstaan nie? Jy is dan self ’n onderwyser wat die Israeliete oor godsdienstige dinge touwys moet maak.”

11. “Luister baie mooi. Ons praat nie oor dinge wat vir ons vreemd of onbekend is of waarvan ons niks weet nie. Nee, wanneer ons nou met soveel sekerheid hieroor praat, is dit omdat ons dit self gesien het. Nogtans aanvaar julle nie wat Ek vir julle sê nie.

12. Nou ja, as julle nie wil luister wanneer Ek praat oor dinge wat hier onder ons gebeur nie, hoe sal julle My dan nog glo wanneer Ek vir julle van die dieper geestelike dinge vertel?

13. “Immers, daar is niemand wat al opgevaar het die hemel in nie, behalwe Een. Dit is juis Hy wat uit die hemel afgekom het: die Seun van die mens.

14. Soos Moses destyds in die woestyn die slang hoog bo-op ’n houtpaal gesit het, so moet die Seun van die mens ook hoog teen ’n kruis opgelig word,

15. sodat elkeen wat Hom gelowig aanvaar en vertrou, vir ewig en altyd kan leef.

16. “God het bewys hoe lief Hy die wêreld het. Hy het sy unieke Seun na die wêreld toe gestuur sodat elkeen wat in hierdie Seun glo, nie verlore sal gaan nie, maar vir altyd saam met God kan leef.

17. God het nie die Seun na hierdie wêreld toe gestuur om net vir almal te kom sê hoe sleg hulle is nie. Nee, Hy het Hom gestuur sodat mense wat sleg was weer by God kon uitkom.

18. Dit is soos ’n hofsaak. Elkeen wat dus in geloof vir Hom ‘ja’ sê, is deur God vrygespreek. Aan die ander kant weerklink die oordeelswoorde nou reeds oor dié wat die Seun nie gelowig aanvaar nie: ‘Julle is skuldig, want julle draai julle rug vir die unieke Seun van God!’

19. “Hoe die dinge in die hofsaak werk, kan so verduidelik word: Jesus het as die Goddelike Lig in hierdie wêreld kom skyn. Die mense het egter meer daarvan gehou om in die donker te leef as in die lig. En daar was ’n goeie rede voor: hulle dade en optrede was net ’n onheilige en slegte gekonkel. Daarom doen hulle die dinge in die donker, want hulle is bang dat almal gaan sien hoe sleg hulle dade regtig is.

20. Daarom hou mense wat sulke slegte dinge doen, niks van die lig nie en hardloop daarvoor weg.

21. As dit wat iemand doen, egter goed en sinvol is soos God dit bedoel het om te wees, hardloop hy juis na die lig toe. Hy het mos niks om weg te steek nie. Almal sal duidelik kan sien uit die dinge wat hy doen, dat hy iemand is wat aan God se kant staan en aan wie se kant God ook is.”

Johannes 3