6. Daar eenkant het ses klipkanne gestaan. Elkeen het sowat 90 liter water gehou. Die Jode het die water gebruik om hulleself godsdienstig te reinig.
7. Jesus sê toe vir die helpers: “Maak daardie kanne vol water.” Die helpers het die kanne tot heel bo vol gemaak.
8. “Skep nou ’n beker daarvan en vat dit vir die seremoniemeester.” Die helpers maak toe soos Jesus gevra het. Daardie water het wyn geword en die helpers het dit besef. Die seremoniemeester het egter niks daarvan geweet nie.
9. Toe die seremoniemeester daarvan proe, roep hy die bruidegom:
10. “Vir wat het jy die goeie wyn tot nou toe gebêre? Jy weet mos ons gee eers die goeie wyn vir die mense en daarna die swakker wyn.”
11. Dit was die eerste teken wat Jesus gedoen het, daar in Kana in Galilea. So het sy grootheid en belangrikheid duidelik geword. En sy dissipels het in Hom geglo.
12. Daarna het Jesus saam met sy ma, broers en volgelinge ’n rukkie in Kapernaum gaan bly.
13. Jesus is toe Jerusalem toe vir die paasfees wat net om die draai was. Die Jode het hierdie fees elke lente gevier. Daar aangekom, is Jesus reguit tempel toe.
14. Op die plein wat aan die tempelgebou grens, was dit die ene bedrywigheid. Die plek was vol handelaars wat beeste, skape en duiwe aan die mense verkoop het om as offers te gebruik. Oral het tafels gestaan waar ’n mens vreemde geld kon omruil vir geld wat vir tempelbelasting gebruik kon word.
15. Jesus maak toe ’n sweep uit toue en jaag die hele spul uit die tempelplein uit, skape en beeste inkluis. Ook die mense wat met die geld gewerk het, het deurgeloop. Jesus het hulle tafels omgegooi en hulle geld die wêreld vol gestrooi.
16. Vir die duiweverkopers het Hy gesê: “Vat hierdie goed weg! Hoe durf julle my Vader se huis in ’n mark verander!”
17. Skielik onthou sy volgelinge wat daar geskrywe staan: “Liefde en ywer vir u huis brand in my soos ’n verterende vuur.”
18. Die Jode kap toe terug: “Wie of wat gee jou die reg om hierdie dinge aan te vang? Kan jy enigiets buitengewoons doen om te bewys dat God jou die reg gee om dit te doen?”
19. “Wel,” sê Jesus vir hulle, “breek die laaste klip van hierdie tempel af en in net drie dae sal Ek dit weer opbou.”
20. “Wat! Dit het 46 jaar se harde werk gekos om hierdie tempel te bou! En jy wil dit sommer in drie dae doen!” sê die Jode dadelik.