Johannes 19:4-12 Die Boodskap (DB)

4. Intussen het Pilatus weer buite met die Jode gaan gesels. “Ek gaan Jesus buitetoe bring, hier na julle toe. Ek wil hê julle moet besef dat Jesus myns insiens onskuldig is.”

5. Juis toe kom Jesus uitgestap. Hy het nog die kroon van dorings opgehad en die pers mantel gedra. Pilatus kondig toe aan: “Kyk, hier is die man.”

6. “Kruisig hom!” gil die leiers van die priesters en die polisie toe hulle Hom sien.“Nou toe, vat julle hom en kruisig hom. Ek gaan dit nie doen nie, want ek dink nie hy is skuldig nie,” was Pilatus se reaksie.

7. Die Jode reageer toe: “Volgens ons wet verdien hy nie om een oomblik langer te leef nie. Hy moet dood, want hy het mos kom maak of hy die Seun van God is.”

8. Dit het Pilatus nogal laat skrik.

9. Hy is dadelik weer die vesting in. (Jesus is intussen binnetoe gevat.) “Waar kom jy vandaan?” loop hy Jesus sommer trompop. Jesus het net stilgebly.

10. “Vir wat praat jy nie met my nie?” sê Pilatus. “Het jy miskien vergeet dat ek jou hier vry kan laat uitstap as ek wil? Of as ek wil, kan ek jou hier buite aan ’n kruis laat ophang tot jy dood is.”

11. Jesus sê toe: “Jy sou niks aan My kon doen as God dit nie so wou gehad het nie. Daarom het die een wat gesorg het dat Ek nou hier geboei staan, ’n baie groter flater in die oë van God gemaak as wat jy het.”

12. Pilatus het toe allerhande planne begin maak om Jesus los te laat. Die Jode het agtergekom wat besig was om te gebeur. Hulle skree toe: “As jy dit waag om Jesus los te laat, bewys jy dat jy ook teen die keiser gedraai het. Dink net daaraan: hierdie man wil homself as koning op die troon sit. Daarmee wil hy die keiser aan die ander kant van die troon afstoot.”

Johannes 19