3. As Ek alles vir julle reggekry het, kom Ek julle haal om by My te wees. Waar Ek is, sal julle dan ook wees.
4. Julle weet eintlik goed waarheen Ek gaan en hoe om daar te kom.”
5. “Met alle respek, Here,” sê Tomas, “ons ken nie eens die adres waarheen U gaan nie. Hoe op aarde sal ons dan weet watter pad om te vat?”
6. Jesus sê toe: “Laat Ek dit so stel: Ek is die ‘pad’ en my Vader die ‘adres’. Wie hierdie pad loop, kom by die ware lewe uit. As iemand ’n ander pad loop, sal hy nooit by my Vader uitkom nie.
7. “As julle regtig geweet het wie Ek is, sou julle ook geweet het wie my Vader is. Julle sal Hom nou leer ken en besef julle het Hom al gesien.”
8. Filippus vra toe: “Here, waar’s die Vader? Wys Hom vir ons. Dan sal ons tevrede wees en niks verder vra nie.”
9. “Ai, Filippus, Ek is al so lank by julle en nou nog weet julle nie wie Ek regtig is nie. Luister mooi. Wie My gesien het, het ook die Vader gesien. Hoe kan jy nou nog vra dat Ek julle die Vader moet wys?
23-24. Jesus antwoord toe: “Wel, Judas, die saak staan so. Daar is twee soorte mense: die mense wat My liefhet, en die mense wat niks met My te doen wil hê nie. Die mense wat My liefhet, neem alles wat Ek sê baie ernstig op; die ander steur hulle nie daaraan nie. God staan 100% agter hulle wat my woorde ernstig opneem, want dit is mos eintlik God self se woorde. Weet julle, my Vader en Ek sal al twee op ’n baie intieme manier deel word van daardie persoon se lewe.
25. Ek sê dit vir julle terwyl Ek nog hier by julle is.
26. Later sal my Vader vir julle julle spesiale Helper, die Heilige Gees, stuur. Hy sal namens My kom en sorg dat julle alles goed sal onthou wat Ek vir julle gesê het.
27. “Julle hoef nie bekommerd te wees nie. Ek los ook vir julle ’n geskenk wanneer Ek weggaan: vrede! Moet dit egter nie verwar met die oppervlakkige vrede van hierdie wêreld nie. Dit is vrede wat iemand net by My kan kry. Daarom hoef julle nie gespanne of selfs bang te voel oor die toekoms nie.
28. Julle weet mos wat Ek beloof het: ‘Ek gaan weg, maar Ek kom weer na julle toe.’ As julle My liefhet, sal julle eintlik bly wees dat Ek na my Vader toe gaan, want Hy is nog belangriker as Ek.
29. Ek vertel julle hierdie dinge nou al, sodat julle kan weet wat om te verwag. Wanneer die dinge dan gebeur, sal dit maak dat julle My net al hoe meer vertrou.
30. Die tyd vir praat raak nou min. Die duiwel maak reg vir sy aanval. Party mense dink mos hy is baas in die wêreld. Maar hy staan nie die geringste kans nie. Hy het klaar verloor, want hy het nie ’n houvas op My nie.
31. Ek doen egter hierdie dinge wat my Vader van My vra, sodat die mense kan besef hoe lief Ek vir my Vader is. Kom, dit is tyd om te gaan.”