Johannes 12:8-25 Die Boodskap (DB)

8. Julle sal altyd weer ’n kans kry om die armes te help, want daar sal maar altyd arm mense wees. Maar met My is dit anders. Ek sal nie altyd by julle wees nie. As julle dan iets moois vir My wil doen, doen dit terwyl julle nog kan.”

9. Die nuus dat Jesus in Betanië was, het soos ’n veldbrand versprei. Die Jode het dadelik afgesit soontoe. Dit was nie net omdat Jesus daar was nie. Hulle was baie nuuskierig om Lasarus ook te sien. Hulle wou sien hoe lyk iemand wat dood was, maar nou leef.

10. Toe die leiers van die priesters dit hoor, het hulle besluit om Lasarus ook sommer uit die weg te ruim. Hulle het gesien hoe die Jode na Betanië gestroom

11. en Jesus begin volg het.

12. Jerusalem het uit sy nate gebars van al die mense wat fees toe gekom het. Hulle was baie opgewonde toe hulle hoor Jesus kom Jerusalem toe. Natuurlik is hulle dadelik daar weg om Hom langs die pad te ontmoet.

13. Met palmtakke in die hand het hulle die hele pad geskreeu: “Ons prys U, U is baie spesiaal! U kom omdat die Here dit wil hê, U is die koning van Israel.”

14. Jesus het op ’n jong donkie daar aangery gekom. Die Skrif sê mos:

15. “Julle hoef nie bang te wees nie, inwoners van Sion. Kyk net; julle koning kom. Hy ry op ’n jong donkie.”

16. Jesus se volgelinge het natuurlik nie in daardie stadium besef dat hierdie gejuig en die woorde uit die Skrif ’n baie dieper betekenis gehad het nie. Dit sou hulle eers later insien. Eers toe Jesus sy krag gewys het deur uit die dood op te staan, het hulle weer mooi oor alles gedink. Toe het hulle dit begryp.

17. Die mense wat gesien het hoe Jesus Lasarus lewendig maak, was ook deel van die groot klomp mense rondom Jesus.

18. Hulle het natuurlik alte gretig vir almal van die wonder vertel wat by Lasarus se graf gebeur het. Dit is tog hoekom die ander mense Jesus kom soek het.

19. Vir die Fariseërs was dit egter slegte nuus. Met die hande in die hare het hulle vir mekaar gesê: “Kyk net wat gaan nou hier aan. Dinge ruk handuit. Al wat leef en beef hardloop agter hom aan!”

20. Onder al die Jode was daar ook ’n klompie Grieke in Jerusalem. Hulle het spesiaal vir die fees gekom.

21. Hulle loop toe vir Filippus (die een wat van Betanië in Galilea af kom) raak en vra vir hom: “Meneer, kan ons asseblief ’n bietjie met Jesus praat?”

22. Filippus praat toe met Andreas daaroor en hulle is toe saam na Jesus toe.

23. Jesus sê toe vir hulle: “Die tyd kom nou vinnig nader dat julle sal sien hoe belangrik Ek regtig is.

24. Laat Ek dit vir julle so verduidelik: ’n koringsaadjie wat jy nooit saai nie, sal maar net een saadjie bly. Maar as jy dit in die grond saai, verdwyn die saadjie ’n ruk lank. Dit is of dit doodgaan. Maar dan kom daar ’n plantjie op en dit dra honderde koringkorrels.

25. ’n Selfsugtige mens wat niks vir ander voel nie omdat hy net heeltyd aan homself dink, is op die verloorpad. Hy gaan uiteindelik niks oorhou nie, nie eens sy eie lewe nie. “Wie egter ander in die lewe eerste stel en bereid is om opofferings te maak, al kos dit wat, leef soos God dit wil hê. Hulle sal alles wen, omdat God sal sorg dat hulle geestelik vir altyd sal leef.

Johannes 12