4. Judas Iskariot was nie baie tevrede daarmee nie. (Dit is dieselfde een wat Jesus later in die rug sou steek.) Hy was die volgeling van Jesus wat met hulle groepie se geld gewerk het.
5. “Watse geldmorsery is dit dié? Hoekom het ons nie liewer die olie gevat en gaan verkoop nie? Ons sou maklik ’n volle jaar se salaris van ’n handwerker vir die olie kon gekry het. Dink net hoeveel armes ons met soveel geld kon gehelp het! Nou het ons niks nie.”
6. Maar Judas was ’n groter jakkals as dit. Hy was nie so vreeslik bekommerd oor die armes nie. Nee, hy was ’n regte dief. Hy het mos met Jesus-hulle se geld gewerk en homself goed daaraan gehelp.
7. “Los haar,” sê Jesus toe. “Laat sy dit hou. Sy gaan dit weer nodig kry vir my begrafnis.
8. Julle sal altyd weer ’n kans kry om die armes te help, want daar sal maar altyd arm mense wees. Maar met My is dit anders. Ek sal nie altyd by julle wees nie. As julle dan iets moois vir My wil doen, doen dit terwyl julle nog kan.”
9. Die nuus dat Jesus in Betanië was, het soos ’n veldbrand versprei. Die Jode het dadelik afgesit soontoe. Dit was nie net omdat Jesus daar was nie. Hulle was baie nuuskierig om Lasarus ook te sien. Hulle wou sien hoe lyk iemand wat dood was, maar nou leef.
37-38. Wat Jesaja soveel jare terug gesê het, is met Jesus weer waar bewys. Die mense wou Jesus nie aanvaar nie, al het Hy al die wonderlike dinge gedoen. Jesaja het nie verniet gesê nie:“Here, wie het hulle aan ons woorde gesteur? Wie het raakgesien wat die Here regtig kan doen?”
39. Hulle wou nie glo nie; nou kan hulle nie glo nie. Dit rym met wat Jesaja gesê het:
40. “God het hulle soos blinde mense gemaak. Hulle het niks meer vir God omgegee nie. Ja-nee, hulle kon God nie meer raaksien nie en het nie vir Hom omgegee nie. Die kans dat hulle na God toe sal kom om sy kinders te word is nul.”
41. Jesaja het hierdie dinge oor Christus gesê omdat hy besef het hoe belangrik Christus is.
42. Baie mense, selfs van die Joodse leiers, was saam met Jesaja oortuig van hoe belangrik Jesus is. Stilletjies, op hulle eie, het hulle Jesus aanvaar. Hulle wou dit egter vir niemand sê nie, want hulle was bang. Hulle het koue voete gekry as hulle daaraan gedink het dat die Jode hulle uit hulle byeenkomste sou wegjaag en hulle sou verbied om weer daar te kom as hulle iets goeds van Jesus sou sê.
43. Hulle probleem was dat hulle harder probeer het om mense te beïndruk as vir God.
44. Jesus praat toe hard sodat almal Hom kon hoor: “Hy wat My gelowig aanvaar, aanvaar nie net vir My nie; hy aanvaar ook vir God wat My gestuur het.
45. Hy wat werklik begryp wie Ek is, begryp ook wie My gestuur het.
46. Ek is die Lig wat helder in hierdie donker wêreld ingeskyn het. Wie My gelowig aanvaar, sal nooit weer in die donker hoef rond te strompel nie. Ek het nie gekom om te kyk hoeveel mense Ek hel toe kan stuur nie; inteendeel.