16. Hy het ’n oorvloed van geskenke van God af wat Hy vir ons wil gee. Daar is geen keer aan al die goeie dinge wat God vir ons gee nie, al verdien ons dit nie.
17. God het die wet deur Moses gegee. Jesus het egter vir ons die wonderlike goedheid van God af gebring. By Hom kon ons leer wat die waarheid is.
18. Niemand het God nog ooit gesien nie. Die unieke Seun, self God, is baie naby aan sy Vader. Daarom kan Hy ons vertel wie sy Vader is. Hy kan ons leer wat ons van God moet weet.
19. Die Jode uit Jerusalem het ’n afvaardiging priesters en Leviete wat in die tempel gewerk het na Johannes toe gestuur. Hulle moes kom uitvind wie Johannes presies was. Daar gekom, vra hulle hom: “Wie is jy?”
20. Johannes het met groot sekerheid en oortuiging gereageer. “Ek is nie die Messias nie,” het hy openlik en beslis gesê.
21. So het die ondervraging aangegaan: “Wie is jy? Is jy dalk Elia wat teruggekom het?” “Nee! Ek is nie!”“Is jy die spesiale boodskapper van God wat sou kom?”“Nee.”
22. Ten einde raad sê die afvaardiging toe maar vir hom: “Asseblief tog, sê vir ons wie jy is. Ons kan nie sonder ’n antwoord teruggaan na die mense toe wat ons gestuur het nie. As jy nou self voor hulle kon staan en vir hulle moes sê wie jy is, wat sou jy gesê het?”
23. “Ek gaan julle antwoord met die woorde van die profeet Jesaja,” sê Johannes toe. “Ek is ’n boodskapper wat in hierdie droë en onherbergsame plek uitroep: ‘Maak ’n pad gelyk en reguit vir die Here, want Hy is aan die kom.’”
24. Die ondervraers het aan die godsdienstige party van die Fariseërs behoort.
25. Hierop het hulle Johannes onder kruisverhoor geneem. “Jy sê jy is nie die Messias nie. Jy sê jy is ook nie Elia of die verwagte boodskapper van God nie. Nou waarom doop jy dan soveel mense asof jy die een of ander belangrike godsdienstige persoon is?”
26. “Ek doop met water,” sê Johannes toe, “maar daar tussen julle in die skare staan Iemand anders. Julle weet nog net nie van Hom nie.