1. Job het Bildad geantwoord en gesê:
2. “Ek weet dit is waar wat jy sê. ’n Mens kan nie ’n saak teen die Here wen nie.
3. As ’n mens God wil aanvat, gaan jy tweede kom. Jy sal Hom nie eens een uit 1 000 keer kan antwoord nie.
4. Die Here weet baie en Hy is ontsettend sterk. Daar is nie ’n mens wat teen Hom kan opstaan en dit oorleef nie.
5. “Voordat die berge nog weet dit gaan gebeur, skuif God hulle. As Hy kwaad word, keer Hy hulle sommer onderstebo.
6. Hy skud die aarde dat dit voel of die aarde nie meer op sy ou plek staan nie. Hy laat die fondamente van die aarde bewe.
7. Hy sê vir die son om nie meer te skyn nie, en dan kom die son nie op nie. Hy keer ook dat die lig van die sterre deurkom.