Job 6:18-28 Die Boodskap (DB)

18. Reisigers draai af na die spruit om ’n bietjie lafenis te soek, maar dis pure verniet. Hulle beland in ’n droë wêreld en op die ou einde gaan hulle van dors dood.

19. Reisigers wat van Tema en Skeba af kom, stop met die hoop om water te kry,

20. maar kry niks nie. Hulle was so seker hulle sou water kry, nou staan hulle verslae by die droë spruit.

21. Julle is vir my net soos hierdie droë spruit. Julle help my net mooi niks nie. Noudat julle sien hoe vreeslik my toestand is, is julle bang.

22. Hoekom? Het ek al ooit vir julle gevra om vir my iets te gee? Sê my, het ek al in enige stadium vir julle gevra om iemand vir my om te koop?

23. Het ek julle al gevra om my van my vyande te red? Het ek julle al ooit gevra om aan mense wat my onderdruk ’n losprys te betaal?”

24. Job het gesê: “Ek sal stilbly as julle my wil leer. Help my verstaan waar ek verkeerd gedoen het.

25. Dit is so dat dit nie lekker is om eerlike kritiek te hoor nie, maar dit kan my miskien help. Maar wat bereik julle met julle argumente?

26. Dink julle miskien wat julle sê, maak enige indruk op my? Julle wil nie eens na my desperate geroep luister nie. Ek praat mos sommer in die wind!

27. Julle trek oor ’n weeskind lootjies. Julle is selfs bereid om ’n vriend vir wins te verkoop.

28. Maar kyk my in die oë. Dink julle ek sal in julle gesig vir julle lieg?

Job 6