Job 34:25-36 Die Boodskap (DB)

25. Hy weet presies wat hulle doen. Hy stoot hulle sommer oornag van hulle troontjies af en vernietig hulle.

26. Hy straf hulle oop en bloot waar almal kan sien wat hulle verkeerd gedoen het.

27. Hulle is nie meer aan die Here lojaal nie. Hulle steur hulle nie aan wat Hy wil hê hulle moet doen nie.

28. Hulle het die arm mense en mense wat swaarkry so sleg behandel dat God hulle noodkrete gehoor het.

29. As die Here stilbly, wie kan Hom daaroor kritiseer? As Hy niks met mense te doen wil hê nie, is almal in die moeilikheid.

30. Hy keer dat mense regeer wat niks met Hom te doen wil hê nie. Hy wil nie hê dat hulle mense verkeerd moet lei nie.

31. “Wat ’n mens vir God behoort te sê, is: ‘Ek het verkeerd gedoen, maar ek sal dit nie meer doen nie.’

32. Of ’n mens moet sê: ‘Wys my as daar iets is wat ek nie raaksien nie. As ek iets verkeerds gedoen het, sal ek ophou om dit te doen.’

33. “Jy weier nou om te erken dat jy skuldig is, Job. Sê my, moet God nou sy straf verander omdat jy nie met Hom saamstem nie? Job, jy moet maar self hieroor besluit, nie ek nie. Sê gerus vir ons wat jy weet!

34. Mense wat verstandig is en insig het en hoor wat ek sê, stem met my saam

35. as ek sê: ‘Job, jy weet nie wat jy praat nie. Wat jy sê, maak nie sin nie.’

36. Job, jy moet op die moeilikste manier moontlik getoets word, want jy praat soos iemand wat niks van God dink nie.

Job 34