20. Enigeen kan skielik in die nag doodgaan. As God net aan hulle raak, gaan hulle dood. Mense wat mag het, verdwyn van die toneel sonder dat enigiemand iets daarmee te doen het.
21. “Die Here kyk hoe mense leef. Hy sien ook alles wat hulle doen.
22. Mense wat slegte dinge doen, moenie dink dat daar iewers ’n plek is wat donker genoeg is om weg te kruip nie.
23. Dit is nie nodig dat mense eers voor Hom moet verskyn voordat Hy kan besluit wat om met hulle te doen nie.
24. Hy hoef nie eens te gaan kyk wat hierdie magtige leiers aangevang het voordat Hy hulle vernietig en ander in hulle plek aanstel nie.
25. Hy weet presies wat hulle doen. Hy stoot hulle sommer oornag van hulle troontjies af en vernietig hulle.
26. Hy straf hulle oop en bloot waar almal kan sien wat hulle verkeerd gedoen het.
27. Hulle is nie meer aan die Here lojaal nie. Hulle steur hulle nie aan wat Hy wil hê hulle moet doen nie.