Job 20:19-29 Die Boodskap (DB)

19. Hy het die arm mense uitgebuit en hulle in hulle ellende gelos. Hy het ander mense se huise wat hy nie gebou het nie, afgevat.

20. Hy was baie gulsig, hy kon net nooit genoeg kry nie. Hy het van baie dinge gedroom, maar hy sal niks daarvan oorhou nie.

21. As hy eet, bly daar gewoonlik niks oor nie. Net so sal sy voorspoed ook nie aanhou nie. Dit sal verdwyn.

22. “Hy sal nog so in weelde leef en sy rykdom geniet, dan tref die ongeluk hom. Ellendes sal hom tref soos hy nie gedink het dit kan nie.

23. Hy sal nog so sy maag vol eet, dan tref God se vreeslike woede hom. Sy woede sal soos reën op hom val.

24. Hy sal probeer wegvlug van ’n wapen wat van yster gemaak is, maar dan tref ’n koperpyl hom.

25. Die pyl sal deur sy lyf gaan en in sy ingewande vassteek. As hulle die pyl uittrek, sal ’n doodsvrees hom skielik oorval.

26. Sy besittings sal in ’n groot, donker gat verdwyn. ’n Vuur wat nie deur enigiemand aangeblaas is nie, sal hom verbrand. Die vuur sal alles opvreet wat in sy blyplek oor is.

27. Die hemel sal al die verkeerde goed wys wat hy gedoen het. Die aarde sal teen hom getuig.

28. Alles wat in sy huis is, sal weggespoel word wanneer God se woede hom soos ’n vloed sal tref.

29. Dit is wat met slegte mense gaan gebeur. Die Here het besluit dit is wat moet gebeur.”

Job 20