21. Eerstens vra ek dat U my nie meer so swaar sal laat ly nie. Tweedens, moenie dat u geweldige teenwoordigheid my so bangmaak nie.
22. Vra maar wat U wil weet en ek sal antwoord. As U dit anders wil hê, sal ek eerste praat en U kan antwoord.
23. Het ek baie goed verkeerd gedoen? Wys my alles wat nie reg is nie of waar ek oortree het.
24. Hoekom steur U U nie aan my nie? Hoekom maak U asof ek u vyand is?
25. Wil U my probeer afskrik? Sal U ’n blaar probeer bangmaak? Ek is niks meer as ’n blaar wat in die wind rondwaai nie. Sal U ’n grashalm agtervolg? Ek is niks meer as ’n grashalm nie.
26. Die goed waarvan U my beskuldig, laat ’n bitter smaak in my mond. U gaan krap selfs in die dinge wat ek in my jeug verkeerd gedoen het en gooi my dit voor die kop.
27. U het my voete in boeie gesit. U hou elke tree dop wat ek gee. U volg selfs my voetspore.
28. En dit terwyl ek besig is om te vergaan, soos iets wat wegvrot. Ek is soos ’n stuk klere wat deur motte gevreet word.”