Job 12:9-21 Die Boodskap (DB)

9. Hulle weet almal dat die Here alles gemaak het.

10. Alles wat lewe, is van Hom afhanklik. Elke enkele mens is vir sy asem van die Here afhanklik.

11. ’n Mens proe met sy mond of kos lekker is. Net so moet ’n mens elke woord toets wat hy hoor.

12. Ouer mense het baie kennis en insig. Mense wat lang lewenservaring het, verstaan dinge baie goed.”

13. “Maar God is eintlik die Een wat wysheid en krag het. Hy het altyd goeie raad en insig.

14. As Hy iets vernietig het, kan dit nie weer opgebou word nie. As Hy iemand gevang het, is die kans om te ontsnap net mooi nul.

15. As Hy keer dat dit reën, is daar droogte. En as Hy dit laat reën, verspoel alles weer.

16. Die Here het krag en Hy wen altyd. Hy het mag oor die mense wat ander bedrieg, maar ook oor hulle wat bedrieg word.

17. Hy laat leiers dom lyk. Hy maak van regters gekke.

18. Hy trek konings se koningsklere uit en laat hulle slaweklere aantrek.

19. Hy laat priesters hulle aansien in die samelewing verloor. Hy verneder hulle. Hy raak ook ontslae van mense wat dink hulle sit stewig in hulle magsposisies.

20. Hy maak mense stil wat nog altyd goeie raad vir ander gegee het. Hy vat ook die insig van ouer mense weg.

21. Hy laat belangrike leiers in die skande kom. Hy vat hulle mag weg.

Job 12