Job 10:1-14 Die Boodskap (DB)

1. Job het gesê: “Ek haat my lewe, ek sien nie kans om so aan te gaan nie. Daarom gaan ek nou presies sê wat my pla. Ek is bitter ontevrede.

2. Ek gaan vir die Here sê: Moenie my net straf nie. Sê vir my waaroor U my aankla.

3. Dink U dat dit reg is om my so swaar te laat kry? Hoekom dink U so min van my? U het my tog self gemaak. Aan die ander kant is U so tevrede met die dinge wat die slegte mense doen. Ek verstaan dit nie mooi nie.

4. Is u oë maar net soos ’n gewone mens s’n? Dit lyk of U na dinge kyk soos mense daarna kyk.

5. U lewe is mos nie so kort soos ’n mens s’n nie.

6. Hoekom soek U dan so hard na die foute wat ek gemaak het? Hoekom probeer U uitvind wat ek verkeerd gedoen het?

7. U weet ek is onskuldig. Maar daar is niemand wat my uit u mag kan red nie.

8. “U het my met u hande gemaak en my ’n vorm gegee. Maar nou draai U om en vernietig my weer.

9. Onthou U dat U my van klei gemaak het? Gaan U my nou weer net stof maak?

10. U was daarvoor verantwoordelik dat my lewe begin het. Dit is ook U wat my in my ma laat groei het.

11. U het my aanmekaargesit. Eers het U my bene en senings aanmekaargebind. Daarna het U dit met vleis en met vel oorgetrek.

12. U het vir my lewe gegee. U liefde is ook altyd daar. Dit is nie een dag op en die ander dag af nie. Omdat U my liefhet, het U my nog nooit in die steek gelaat nie. U sorg het gemaak dat ek nog kon aangaan met my lewe.

13. “Maar ek besef nou dat U nog altyd geheime planne gehad het.

14. U het my dopgehou en geweet van elke verkeerde ding wat ek gedoen het. U plan was om my nie daarmee te laat wegkom nie.

Job 10