Jesaja 65:4-16 Die Boodskap (DB)

4. Hulle gaan bly tussen die grafte en slaap in grotte om die geeste te aanbid. Hulle eet moedswillig varkvleis. Daar is vleis wat vir die afgode geoffer word in hulle borde.

5. Hulle sê: “Bly weg van my af. Moenie aan my raak nie. Ek is soos ’n god vir jou.”Ek kan sulke mense nie verdra nie. Hulle irriteer My.

6. My besluit staan vas. Ek gaan dit nie uitstel nie. Ek gaan hulle straf. Ek gaan vir hulle gee wat hulle verdien.

7. Ek gaan hulle terugbetaal vir alles wat hulle gedoen het, sê die Here, vir al hulle en ook hulle ouers se oortredings. Hulle het bo-op die berge wierook gaan offer vir die gode. Hulle het My beledig met hulle afgodsoffers wat hulle bo-op die heuwels gebring het.

8. Maar so sê die Here: Ter wille van hulle wat vir My leef, sal Ek hulle nie almal vernietig nie. Ek sal maak soos iemand wat aan ’n druiwetros nog bruikbare korrels kry.Hy sê: “Moenie dit weggooi nie, daar is nog korrels aan wat ons kan gebruik.”

9. Ek sal vir Jakob kinders laat oorbly. Daar sal uit Juda mense oorbly wat die berggedeeltes sal erf. Die mense wat Ek vir My uitkies, sal die land besit. Hulle wat vir My lewe, sal daar gaan woon.

10. Die volk wat My aanbid, sal hulle skape in die Saronvlakte kan laat wei. Hulle sal beeste in die Akorlaagte aanhou.

11. Maar party van julle het mos van die Here af weggegaan. Julle het die Here se tempel uit julle gedagtes weggeskuif. Julle aanbid eerder die geluksgod en die noodlotsgod.

12. Ek het besluit dat julle almal doodgemaak sal word. Julle sal almal tereggestel word. Ek het na julle geroep, maar julle het nie gereageer nie. Ek het met julle gepraat, maar julle wou nie luister nie. Julle het aangegaan om alles te doen wat vir My verkeerd is. Julle het verkies om die dinge te doen wat My nie aanstaan nie.

13. Omdat dit gebeur het, sê my Heer, die Here, sal hulle wat aan My getrou gebly het, hulle versadig eet. Maar julle sal honger bly. Hulle sal genoeg hê om te drink. Julle sal dors bly. Hulle sal vrolik wees en julle sal treurig wees.

14. Hulle sal van blydskap sing, terwyl julle van hartseer kreun.

15. Julle name sal vloekwoorde word vir hulle wat aan My behoort. Die Here sal julle uitroei. Hy sal nuwe name gee vir dié wat aan Hom getrou gebly het.

16. Elkeen in die land wat vir voorspoed bid, sal dit doen in die Naam van die God wat getrou bly. Elkeen wat ’n eed aflê, sal dit doen in die Naam van die God op wie ’n mens kan staatmaak. Die probleme wat daar vroeër was, sal iets van die verlede wees. Dit sal vergeet word.

Jesaja 65