Jesaja 5:14-22 Die Boodskap (DB)

14. Die doderyk staan oopmond vir Jerusalem en wag. Hy kan nie wag om die hele rumoerige spul, ryk en arm, met een sluk in te sluk nie.

15. Op daardie dag sal die verwaandes tot ’n val kom en die hoogmoediges verneder word.

16. Maar die Here die Almagtige sal sy grootheid bewys in die beslissings wat Hy gee. Hy is die heilige God wat sy heiligheid deur sy regverdige oordeel bewys.

17. Die lammers sal op die bouvalle en die boklammers in die strate van die stad wei asof dit ’n weiveld is.

18. Daar wag groot swaarkry op die mense wat hulle sonde saam met hulle rondsleep soos ’n mens ’n hond aan ’n leiband sal lei.

19. Hulle spot met die Here en sê: “Maak gou, doen iets! Wys ons wat Jy kan doen. Ons is nuuskierig om te sien wat die Heilige van Israel vir ons beplan.”

20. Dit sal swaar gaan met dié wat sê verkeerd is reg en reg is verkeerd, wat van die donker lig wil maak en van die lig donker. As iets bitter is, sê hulle dit is soet en as dit soet is, noem hulle dit bitter.

21. Dit sal swaar gaan met dié wat dink hulle is baie slim en kwansuis alles van alles af weet.

22. Met die helde van die drankbottels wat spog oor hoe goed hulle hulle drank kan vat, sal dit baie swaar gaan.

Jesaja 5