12. Die smid werk met sy gereedskap en bewerk die yster in die vuur. Hy vorm die beeld met sy hamer op die aambeeld. Met sy gespierde arm slaan hy dit in die vorm wat hy dit wil hê. Maar hy is ook maar net ’n mens. Hy word ook maar honger en moeg. As hy nie water drink nie, raak hy ook maar uitgeput.
13. Die kunstenaar wat met hout werk, meet ’n stuk hout af en merk die buitelyne daarop uit met ’n potlood en ’n passer. Hy gebruik sy beitel en kerf uit die hout iets wat soos ’n mens lyk. Dit word ’n pragtige beeld wat lyk soos ’n mens wat in ’n huis woon.
14. Die hout wat hy gebruik, kom van ’n sederboom wat hy afgekap het. Hy kon ook ’n sipresboom of eikeboom gevat het. Hy laat vir hom bome in die bos grootword. Hy plant hulle en wag dat die reën hulle grootmaak.
15. Wanneer hy dit afkap, gebruik die mens die hout om vuur te maak. Hy maak homself daarmee warm, of hy gebruik dit vir die vuur waarmee hy brood bak. Maar hy gebruik van dieselfde hout om vir hom ’n god te maak waarvoor hy buig. Hy maak daarvan ’n afgodsbeeld en dan gaan buig hy in aanbidding voor die beeld.
16. Met die een helfte maak hy vuur. Hy braai vleis daarop en eet tot hy versadig is. Hy sit by die vuur om homself warm te maak. Hy sê ewe tevrede: “Ai, ek kry nou lekker warm. Dis lekker hier by die vuur.”
17. Van die hout wat nog oor is, gaan maak hy dan vir hom ’n afgodsbeeld. Hy buig voor die beeld neer en aanbid dit. Hy bid tot die beeld en hy sê: “Jy is my god. Jy moet my red!”
18. Hulle verstaan glad nie wat hulle besig is om te doen nie.Hulle oë is bottoe. Hulle sien en verstaan glad nie wat besig is om met hulle te gebeur nie.
19. Dit kom nie eens by hulle op om ’n oomblik na te dink en vir hulleself te sê nie: “Ek het dan met die een helfte vuur gemaak om brood te bak en vleis gaar te maak, hoe kan ek nou die ander helfte gebruik om ’n afgod van te maak? Ek bid mos nou tot ’n stuk hout!”
20. Iemand wat hom ophou met hout wat verbrand het, kan nie meer mooi dink nie. Hy kan nie meer op ’n afstand gaan staan en vir homself vra: “Is ek nie besig om myself te bedrieg as ek so maak nie?”
21. Jakob, jy moet ’n bietjie hieroor gaan nadink. Israel, jy moet onthou dat jy aan My behoort. Jy moet My dien. Ek sal jou nooit in die steek laat nie, Israel.
22. Ek het jou oortredings soos mis voor die son laat verdwyn. Ek het jou sondes soos ’n wolk laat verdamp. Kom terug na My toe, want Ek het jou verlos.
23. Die lug daar bo moet uit volle bors sing oor wat die Here gedoen het. Selfs in die laagste plekke onder op die aarde moet daar hardop gesing word. Die berge met die bosse en bome daarop moet juig. Die Here het Jakob vrygemaak. Die Here het vir Israel gewys hoe groot Hy is.