6. Ek is die Here. Ek het jou geroep om geregtigheid op aarde te bring. Ek sal jou hande sterk maak en jou beskerm. Deur jou maak Ek ’n ooreenkoms met die volke. Jy is die lig wat die nasies na My toe lei.
7. Jy sal dié wat blind was, laat sien. Jy sal dié wat in tronke was, laat uitkom. Jy sal dié wat in donker selle gebly het, daaruit bevry.
8. My naam is die Here. Ek staan die eer wat Ek moet ontvang, aan niemand anders af nie. Ek laat geen afgod toe om soos Ek grootgemaak te word nie.
9. Wat Ek voor die tyd al vir julle gesê het, gaan net so gebeur soos Ek gesê het. Ek laat julle hoor van dinge wat nog moet kom, selfs al voor dit begin het om te gebeur.
10. Julle moet vir die Here ’n nuwe lied sing. Oor die hele aarde moet Hy grootgemaak word. Almal wat op die see vaar en alles wat in die see is, moet saam sing. Die lande oorkant die see en almal wat daar woon, moet God verheerlik.
11. Die woestyn en die dorpe wat daarin is, moet vir die Here sing. Dié wat in Kedar bly, moet sy Naam grootmaak. Dié wat in Sela bly, moet juig. Hulle moet van die toppe van die berge af jubel vir die Here.
12. Dié wat in die lande oor die see bly, moet aan die Here eer bewys. Hulle moet sy Naam grootmaak.
13. Die Here is soos ’n soldaat wat gaan oorlog maak. Hy is soos ’n man wat reg is om te gaan veg. Hy skreeu en gee die oorlogskreet. Hy oorrompel sy vyande.
14. Ek het vir lank stilgebly en niks gedoen nie. Maar Ek gaan nou iets doen. Ek sal skree soos ’n vrou wat ’n baba in die wêreld bring. Ek sal hyg, Ek sal hard asemhaal.
15. Ek sal droogte op die berge en heuwels laat kom. Ek sal die plante laat doodgaan wat daarop groei. Ek sal die riviere in stilstaande poele verander. Die riete in die vleie sal doodgaan.
16. Ek sal die blinde Israel op ’n pad laat loop wat hy glad nie ken nie. Hy sal op paaie loop waarvan hy glad nie eers geweet het nie. Ek laat die donkerte voor hulle in lig verander. Ek verander die pad wat vol slaggate is in ’n gladde pad. Ek gaan dit doen. Ek sal hulle nie in die steek laat nie.
17. Aan die ander kant sal die mense wat op afgode staatmaak en vir afgodsbeelde sê: “Julle is ons god” op hulle neus kyk. Hulle gaan sleg daarvan afkom.
18. Julle wat julle so doof hou en maak of julle blind is, moet nou ’n bietjie aandag gee.
19. Die volk wat My moet dien, het mos oë wat nie wil sien nie. Die boodskapper wat Ek stuur, het mos ore wat glad nie wil hoor nie. Wie is so blind soos die volk van die Here?
20. Julle het so baie dinge gesien, maar dit het geen indruk op julle gemaak nie. Julle luister, maar julle hoor eintlik niks.